Update
OUDTSHOORN NUUS - Die laaste mediese uitreik van Pediatric Care Africa vir 2026 was verlede Saterdag, 21 November, by Vlakteplaas Primêre Skool naby De Rust.
Die organisasie, wat deur dr. André Hattingh van De Rust gestig is, bied jaarliks gratis basiese mediese dienste aan honderde mense in gebiede wat verder as 50 km van die naaste hospitaal woon.
Volgens Hattingh word die besoeke aan gemeenskappe elke drie maande herhaal sodat die vordering van pasiënte en veral kinders gemonitor kan word.
Tydens Saterdag se besoek aan Vlakteplaas is 52 pasiënte behandel.
Met die besoeke die afgelope jaar het meer as 400 pasiënte mediese behandeling ontvang en 150 tandheelkundige dienste. Alle behandeling word vrywillig deur dokters, tandartse, verpleegpersoneel en fisioterapeute verskaf.
'n Groot groep vrywilligers spring ook gereeld in om te help met die administratiewe take en die voorsiening van kos.
Hattingh het elke vrywilliger opreg bedank vir die opofferings wat hulle deur die loop van die jaar gemaak het. "Julle is ware helde. Baie dankie namens elke persoon wat die afgelope jaar deur julle harde werk gehelp is.
Sonder julle sal geen mediese uitreike na hierdie gemeenskappe moontlik wees nie," het hy na afloop van Saterdag se besoek gesê.
Volgens Hattingh glo Pediatric Care Africa dat elke kind die reg op professionele mediese sorg het, ongeag hul omstandighede en waar hulle woon.
Hy het ook gemeenskappe in kennis gestel dat hul kantoor op 18 Desember sluit en weer op 4 Januarie oopmaak.
Oudtshoorn se pas verkose speaker, Johan Allers, en sy vrou, Ilse, is ook gereelde vrywilligers tydens Pediatric Care Africa se uitreikgeleenthede. Johan sê almal wat betrokke is deel Pediatric Care Africa se visie van gratis mediese sorg aan behoeftige gemeenskappe.
Hattingh vertrek Donderdag 3 Desember per rolstoel vanaf die Doornkraal-padstal na Oudtshoorn vir sy laaste fondsinsmelingsprojek van die jaar.
Hy nooi vrywilligers uit die gemeenskap om by hom aan te sluit en die rolstoel vir 'n gedeelte van die 30 km-roete te stoot.
Hy spring om 06:00 op 3 Desember by Doornkraal weg en hoop om ongeveer ses ure later by die CP Nel-museum te eindig. Alle fondse word aangewend vir persone met gestremdhede.
Vorige artikels:
- Donkiekarrit by halfmerk
- Doc weer 500 km op donkiekar
- Donkies ry vir kinders
- Motorfietse brul vir mediese sorg vir kinders
- 7 000km ten bate van kinders
- Kleine Nahkesha kry wiele
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’