OUDTSHOORN NUUS - AfriForum se Eden-buurtspan het van Woensdag tot Vrydag, 18 tot 20 November, herstelwerk aan slaggate in Buitekantstraat, tussen Hof- en Tuinstraat, uitgevoer.
Die buurtspan word hoofsaaklik deur AfriForum se takke in Knysna, George, Oudtshoorn en Mosselbaai befonds en is verantwoordelik vir ’n verskeidenheid take, onder meer munisipale herstelwerk, asook diensleweringsprojekte wat met die veiligheid van skole en kerke verband hou.
Tydens die jongste besoek aan Oudtshoorn was die fokus op die herstel van verskeie groot slaggate. Die slaggate het verkeer aansienlik ontwrig. Die slaggat by die kruising van Buitekant- en Tuinstraat is reeds verskeie kere aangemeld.
Volgens lidmate van die NG Kerk Wes, wat op dié betrokke hoek geleë is, is dié slaggat al geruime tyd ’n groot bron van kommer.
Altesaam twee ton teer is gedurende die drie dae gebruik om die verskeie slaggate in die straat te herstel.
AfriForum hou ’n register by van slaggate wat deur inwoners aangemeld word. Herstelwerk word geprioritiseer in gebiede wat nie by die munisipaliteit se herstelplanne vir die betrokke boekjaar ingesluit is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’