OUDTSHOORN NUUS - Abraham Tiemie, ’n raadslid van die Patriotic Alliance (PA) in die Oudtshoorn-munisipaliteit, is Maandag 23 November in die Oudtshoorn-landdroshof op borgtog van R500 vrygelaat nadat hy op ’n aanklag van poging tot moord verskyn het.
Tiemie word saam met Daniel Bruintjies en drie minderjariges, onder wie ’n 16-jarige, in verband met ’n aanval in Rosebank aangekla. Die vyf beskuldigdes word aangekla van poging tot moord en huisbraak.
Die vyf verdagtes is Sondagaand 22 November in hegtenis geneem, kort ná die voorval by Square-kamp in Bella Rosasingel, Rosebank, plaagevind het.
Volgens AO Chris Spies, polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, het die voorval omstreeks 18:10 plaasgevind.
Lede van die publiek het die Oudtshoorn-polisie, wat op patrollie was, van die aanval in kennis gestel.
Die beamptes het die slagoffer met verskeie steekwonde aan sy liggaam aangetref. Hy is per ambulans na die hospitaal vervoer.
Die staatsaanklaer, Thuba Nyamane, het nie borgtog teengestaan nie. Tiemie is op borgtog van R500 vrygelaat, terwyl Bruintjies en die drie minderjariges op waarskuwing vrygelaat is.
Die vrylating op waarskuwing is onderhewig aan voorwaardes dat die beskuldigdes nie met getuies kontak mag maak nie, en hulle nie aan verdere misdade skuldig mag maak nie.
Curwin Lucas van Duvenhage, Keyser en Jonck het namens die beskuldigdes verskyn. Die omstandighede van die voorval is nog nie bekend nie.
Die saak is tot 26 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’