LADISMITH NUUS - Georgie Booysen van die Patriotiese Alliansie (PA) is tydens die munisipaliteit se eerste raadsvergadering vandag, 19 November, as burgemeester verkies.
PA-leier Gayton McKenzie het ook in sy persoonlike hoedanigheid die vergadering bygewoon.
Booysen se verkiesing spruit daaruit dat geen politieke party tydens die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November ’n volstrekte meerderheid in Kannaland behaal het nie. Die PA, Kannaland Independent Party (KIP) en Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) het daarna ’n koalisie gevorm om die munisipaliteit te bestuur.
Peter-George Rooi van die KIP is as onderburgemeester verkies, terwyl Werner Meshoa van Icosa die posisie van speaker sal beklee.
In nog ’n belangrike aanstelling is Hyrin Ruiters van Icosa tydens ’n stemming wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) behartig is, as Kannaland se verteenwoordiger op die Tuinroete-distriksmunisipaliteit aangewys.
Die vergadering het ook ’n interessante wending gehad toe rdl. Joshlyn Johnson vir Saralene Prins van die PA as burgemeester voorgestel het. Prins het die nominasie egter onmiddellik van die hand gewys.
Jeffrey Donson, Kannaland se voormalige burgemeester, het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat hy nie vir enige posisie in die nuwe raad beskikbaar was nie.
Die raadslede buite die koalisie sluit die DA se Loretta Snyman, Johan Olivier en Johnson in, asook die ANC se Bonita Klink.
In sy eerste toespraak as burgemeester het Booysen belowe om die inwoners wie se elektrisiteit weens uitstaande rekeninge afgesny is, se kragtoevoer te koppel. Hy het gesê dié inwoners sal tot Februarie kans kry om hul agterstallige rekeninge te betaal.
Booysen het ook ’n totale ommekeer in Kannaland se huidige omstandighede belowe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’