OUDTSHOORN NUUS - Dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa het Donderdag 24 April met sy donkiekar en donkies in De Rust aangekom.
Hattingh het op 8 April weggetrek en het die 500 km rit op 'n donkiekar suksesvol voltooi.
Die doel was om geld in te samel vir kinders in die Karoo met serebrale gestremdheid en die hoop is om genoeg geld in te samel om spesiaal ontwerpte rystoele vir die kinders te koop.
Hierdie rystoele, wat deur 'n arbeidsterapeut aangepas word, help kinders om meer onafhanklik en deel van hul gesinne se daaglikse lewe te wees.
"Serebrale gesondheid kan nie gesond gemaak word nie, maar met die rystoele kan ons 'n wesenlike verskil maak in die lewenskwaliteit van sulke kinders.
Sulke kinders bring hul lewe in afsondering deur, word meestal rondgedra en as hul groter raak en hulle te swaar raak om te dra word die kinders baie tye alleen gelaat. Rystoele gaan dus 'n enorme verskil maak," noem Hattingh.
Nadat hy afgepak het en die donkies versorg is, is 'n rystoel aan Nadine Stuurman van Blomnek oorhandig vir gebruik vir haar serebrale gestremde dogtertjie, Nahkesha (3).
Dit is ook die eerste buggy wat in die projek oorhandig is en sal voortaan die lewe vir die familie aansienlik vergemaklik.
Hattingh sluit af deur te noem dat die 500 km-rit as epies beskryf kan word, "fisies en geestelik was dit 'n groot uitdaging vir almal betrokke.
Toe ons die projek aangepak het, het ons nie eers geweet of dit werklik haalbaar is nie, maar noudat dit suksesvol was gaan ons voortaan elke jaar in April 'n donkierit doen en dit 'n instelling maak om op die manier die kinders van die Klein-Karoo te help."
Fotogalery: 500 km per donkie vir kinders in die karoo met serebrale gestremdheid
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’