OUDTSHOORN NUUS - Dr. André Hattingh, alombekend as Doc, van Pediatric Care Africa, span volgende Donderdag 9 April weer sy donkies in om 500 km ten bate van mediese sorg vir kinders af te lê.
Hy het die tog van 15 dae verlede jaar aangepak om geld in te samel vir 'n spesiale rolstoel vir die driejarige gestemde Nahkesha Stuurman van Blomnek in De Rust. Met vanjaar se rit word geld ingesamel om die kindersale by die Oudtshoorn-hospitaal vroliker te maak en ook noodsaaklike meubels en lugversorgers te voorsien.
"Hospitale kan vreesaanjaende plekke vir kinders wees, en daarom is dit belangrik dat die kinders se omgewing vriendelik en helder moet wees," het Hattingh, wat 'n uitgetrede neurochirurg is, gesê.
Buiten die hospitaalprojek sal die geld ook aangewend word vir mediese dienste wat Pediatric Care Africa aan minderbevoorregte mense op die platteland bied. Daar word juis in Mei so 'n projek vir Klaarstroom beplan.
Roete
Vanjaar se rit behels twee roetes. Met die eerste roete ry Hattingh en sy donkies vanaf Klaarstroom, verby Middelplaas, Dysselsdorp en Oudtshoorn tot by Calitzdorp en dan terug na De Rust. Die tweede deel begin op Klaarstroom tot waar die donkies op 'n sleepwa vervoer word, dan volg hulle die R407 tot in Willowmore en terug tot by Klaarstroom waar die donkies weer op 'n sleepwa gelaai word. Die rit eindig op 24 April in De Rust. Die roetes is so beplan dat dit hoofsaaklik met grondpaaie langs lei aangesien donkiekarre op hoofroetes verbied word.
Die donkiekar wat Hattingh se voertuig vir die 15 dae sal wees, is verlede jaar deur inwoners van De Rust gebou. Die ses donkies wat gebruik word, behoort ook aan 'n plaaslike eienaar en twee donkiekenners vergesel die donkies. Soos verlede jaar word daar beplan om 30 km per dag af te lê, en die donkies word elke twee ure omgeruil. Die donkies word ook elke dag deur 'n veearts ondersoek. Die harnasse wat gebruik word, is spesiaal vir elke donkie gemaak.
Hattingh sê dit is altyd verfrissend as dit reën, maar dit duur dan baie langer, want donkies is glad nie lief vir water nie. Verlede jaar het hulle sommer met die eerste dag 'n hele aantal ure verloor toe dit begin reën het.
Hattingh is geen vreemdeling vir radikale fondsinsamelingsprojekte nie.
Hy het die afgelope aantal jare elke jaar 7 000 km op sy motorfiets aangepak, en het skaars 'n maand gelede van vanjaar se rit teruggekeer.
Mense wat meer inligting oor Pediatric Care Africa se Donkeys Delivering Dreams wil bekom kan op Pediatric Care Africa se webtuiste loer of hulle Facebook-blad volg.
Vorige artikels:
- Donkies ry vir kinders
- Motorfietse brul vir mediese sorg vir kinders
- 7 000km ten bate van kinders
- Kleine Nahkesha kry wiele
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’