OUDTSHOORN NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) het op Saterdag 21 November hulle laaste jaarlikse spanskietkompetisie op die plaas Aangenaam, net buite De Rust, aangebied.
Deelnemers van regoor die Tuinroete en Klein-Karoo het ingeskryf. Die kompetisie is oor ses bane met vyf ghongs per baan beslis. Skuts moes tref uit verskillende skietposisies oor afstande van tussen 250 m en 330 m.
Die wenners was soos volg:
1ste plek: Hou Ons Dop (Martel Jacobs, Martiens Bekker, Hugo Moolman en Bernard Langenhoven)
2de plek: Roer Broers (André Barnard, Chris Kemp, Jaco du Plessis en Johan Kemp)
3e plek: Trigger Happy (Danie Barnard, Paul Snyman, Piet Lotz en Charl du Plessis)
Roer Broers en Trigger Happy het die kompetisie met dieselfde puntetotaal afgesluit. Die tweede en derde plek is met behulp van baan 1 se uitslag bepaal. Volgens die kompetisiereëls word die finale uitslag bepaal op die spanprestasie op baan 1. Hier het Roer Broers die hoogste telling behaal en sodoende die tweede plek ingeneem.
Die SJB het hul borg, Kloppers George, bedank, asook Henry en Martie van der Westhuizen, plaaseienaars van Aangenaam, die baanoffisiere en alle betrokkenes wat met beplanning en administrasie gemoeid was.
Nog 'n hoogtepunt van die dag was die gelukstrekking van 'n BSA GRT Comet Evo 5.5mm-luggeweer, wat deur Paul Snyman gewen is.
Met 'n goeie opkoms, ondersteuning van Kloppers en lekker sportgees was die dag 'n groot sukses.
nVir meer inligting oor die SJB, bel 044 695 2319 of besoek www.suidkaapjagters.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’