OUDTSHOORN NUUS - Dr. André Hattingh, 'n afgetrede neurochirurg en stigter van Pediatric Care Africa, wat verlede jaar 3 500 km afgelê het om aandag te vestig op plaasmoorde en fondse in te samel vir ingewikkelde operasies vir kinders, het groot planne vir 2025 om kinders in nood te help. Hy en sy vrou, Joyce Crompvoets, woon sedert 2024 in De Rust.
Hattingh het in 2017 Pediatric Care Africa gestig, 'n nie-winsgewende organisasie wat fokus op mediese sorg en operasies vir minderbevoorregte kinders.
Sy eerste groot projek vir 2025 is die Ride for a Child-motorfietsrit, wat op 9 Februarie begin en op 2 Maart eindig. Dit sal Hattingh se sesde Ride for a Child wees. Met sy Road King Harley Davidson beplan hy om 7 000 km in 22 dae af te lê. Die rit begin en eindig in Oudtshoorn.
Die doel van die rit is om vrywillige algemene praktisyns te werf om minstens twee kinders per jaar op 'n pro bono-basis te help. Dit sal verseker dat kinders toegang tot regte diagnoses, voorskrifte en behandelings kry.
Hattingh vertrek op 9 Februarie vanuit Oudtshoorn. Sy eerste stop is Gqeberha via George, waarna hy reis na Oos-Londen, Port St. Johns, en Durban, waar hy 'n kinderhuis besoek. St. Lucia is sy volgende bestemming, gevolg deur Pongola en Mbombela.
Van daar besoek hy Louis Trichardt, Thabazimbi, Rustenburg, Vryheid, Upington, Port Nolloth, Lambertsbaai, Kaapstad, Kaap Agulhas en eindig dan weer in Oudtshoorn.
Hattingh het benadruk hoe belangrik dit is om vrywillige algemene praktisyns te kry wat bereid is om kinders pro bono mediese sorg te bied. Hy moedig ook ander vrywilligers aan om hom te nader indien hulle sy missie wil ondersteun.
So kan jy help:
• Maatskappye kan Hattingh borg per voltooide kilometer. Borge betaal slegs vir die kilometers wat hy voltooi indien die rit onverhoeds gestaak word. Alle kilometerlesings word volledig gedokumenteer.
• Enigiemand kan finansieel bydra deur skenkings te maak.
• Borgskapdokumente is beskikbaar vir belangstellendes.
Om 'n afspraak met hom te reël of meer oor die projek uit te vind, kan Mandy Pieters gekontak word by events@pediatriccareafrica.org of 072 034 0544.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’