OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Denzil April (47), wie se liggaam verlede Vrydagoggend op die terrein van die Oudtshoorn Infanterieskool gevind is, sit steeds met onbeantwoorde vrae oor hoe hy uit die hospitaal kon verdwyn.
April is op 10 November as vermis aangemeld, nadat sy familie gehoor het dat hy vroeër daardie oggend die Oudtshoorn-hospitaal verlaat het. Sy liggaam is drie dae later, op 13 November, gevind.
April, wat aan epilepsie gely het, is op 5 November in die hospitaal se psigiatriese afdeling opgeneem nadat hy weer 'n aanval gehad het. Volgens sy familie het die hospitaalpersoneel hulle Dinsdag 10 November, toe hulle hom wou besoek, ingelig dat hy vroeër die oggend die perseel verlaat het.
Hy was glo weens sy mediese toestand aan die hospitaalbed vasgemaak, dit is egter steeds onduidelik hoe hy losgekom het en die hospitaal kon verlaat.
Sy ma, Magdalena (65), en tante, Johanna (64), sê hulle verstaan nie waarom die familie eers die middag in kennis gestel is dat hy weg is nie, terwyl hy glo reeds vroeër die oggend die hospitaal verlaat het.
Die familie het hom onmiddellik as vermis aangemeld.
'n Grootskaalse soektog is daarna deur familielede, lede van die gemeenskap, die Oudtshoorn-polisie, die K9-eenheid en die militêre polisie van stapel gestuur.
Volgens die familie was Denzil baie geheg aan sy naasbestaandes, en het hy weens sy siektetoestand selde sonder 'n familielid aan sy sy rondbeweeg.
Die familie oorweeg nog hoe hulle die kwessie verder gaan hanteer, maar sê hulle is tevrede dat die polisie die saak verder ondersoek.
Volgens AO Chris Spies, polisiewoord-voerder, het die Oudtshoorn-polisie 'n geregtelike doodsondersoek geopen nadat Denzil se liggaam ontdek is. 'n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood vas te stel.
Departement van gesondheid reageer
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, word die omstandighede rondom sy dood ondersoek.
Die departement het sy innige meegevoel met die familie en vriende van die oorledene betuig. "Die omstandighede rondom die pasiënt se verdwyning en daaropvolgende afsterwe word tans ondersoek. Die hospitaal werk ten volle saam met die betrokke owerhede en sal alle nodige bystand verleen," lui die verklaring.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, aangesien die familie wag totdat die nadoodse ondersoek afgehandel is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’