OUDTSHOORN NUUS - Inwoners wil nie nóg beloftes hoor nie. Hulle wil sien dat probleme aangespreek word, hul stemme gehoor word en dat iemand verantwoordelikheid neem wanneer dinge verkeerd loop.
Dit is die werklikheid waarmee Oudtshoorn se nuwe burgemeester, Jerome Lambaatjeen (DA), nou gekonfronteer word.
Sy boodskap is duidelik: vertroue in die munisipaliteit sal nie oornag herstel word nie, maar dit begin by harde werk, eerlike leierskap en 'n bereidwilligheid om na inwoners te luister.
Lambaatjeen, wat op 20 November tydens die nuwe munisipale raad se eerste vergadering as burgemeester verkies is, sê hy beskou die posisie as 'n groot eer en voorreg. "Ek aanvaar die verantwoordelikheid met nederigheid en belowe om my taak met toewyding, integriteit en erns te vervul."
Vir hom begin die herstel van vertroue by 'n munisipale administrasie wat doen wat dit veronderstel is om te doen. Hy wil toesien dat die administrasie effektief funksioneer en dat begrotings en beskikbare hulpbronne verantwoordelik aangewend word om in inwoners se basiese behoeftes te voorsien.
"Basiese dienslewering aan inwoners is die grondslag van munisipale bestuur, maar daar moet terselfdertyd ruimte geskep word vir nuwe idees en ontwikkelingsinisiatiewe wat Oudtshoorn vorentoe kan neem," sê hy.
Lambaatjeen sê hy is bewus van die uitdagings wat op die nuwe raad wag. Hoë misdaadvlakke en werkloosheid is volgens hom van die grootste probleme waarmee die dorp worstel. Hoewel dit nie uitdagings is wat uniek aan Oudtshoorn is nie, glo hy daar moet gekyk word na praktiese plaaslike oplossings binne die munisipaliteit se bevoegdhede en in samewerking met ander rolspelers.
Wanneer dit by dienslewering kom, wil hy nie hê dat inwoners moet voel dat hul probleme bloot geïgnoreer word of dat kleiner probleme minder belangrik is nie.
Hy glo dat 'n probleem wat vir een inwoner dalk gering mag lyk, vir iemand anders 'n daaglikse frustrasie kan wees.
Politieke verskille moet plek maak vir samewerking
Met verskeie politieke partye wat nou in die raad verteenwoordig word, sal samewerking 'n belangrike rol speel.
Lambaatjeen erken dat geen politieke party al die antwoorde of die vermoë het om Oudtshoorn se uitdagings alleen aan te pak nie. Hy wil hê raadslede moet hul persoonlike en politieke verskille opsy kan skuif wanneer die gemeenskap se belange ter sprake is.
"Samewerking is van kardinale belang. Geen munisipaliteit kan doeltreffend funksioneer indien politieke partye nie bereid is om saam te werk nie."
Hy beklemtoon dat inwoners nie benadeel mag word omdat 'n spesifieke politieke party 'n bepaalde wyk verteenwoordig nie.
'n Burgemeester wat wil luister
Lambaatjeen wil 'n toeganklike burgemeester wees wat bereid is om te luister en met inwoners in gesprek te tree. Inwoners sal afsprake met hom kan maak, en hy is ook bereid om gemeenskappe in verskillende wyke te ontmoet.
Hy moedig inwoners aan om die munisipaliteit se bestaande klagtekanale te gebruik. Indien probleme nie bevredigend opgelos word nie, kan dit na die volgende vlak verwys word, waar die burgemeesterskomitee binne sy bevoegdhede kan help om te verseker dat dit aandag geniet.
"Vertroue word nie deur mooi beloftes herstel nie, maar deur dade en konsekwente optrede," sê hy.
Sy eerste 100 dae
Vir inwoners wat graag vinnige verandering wil sien, is die vraag wat die nuwe burgemeester binne sy eerste 100 dae kan bereik onvermydelik.
Lambaatjeen waarsku egter dat verwagtinge realisties moet wees. Daar is verskeie uitdagings en sake uit die verlede wat eers reggestel en aangespreek moet word. Munisipale bestuur is volgens hom 'n komplekse proses wat samewerking tussen die politieke leierskap en die administrasie vereis.
Hy sê inwoners kan hom wel verantwoordbaar hou vir eerlike leierskap, harde werk, deursigtigheid en sigbare pogings om Oudtshoorn te verbeter.
Die voortgesette voorsiening van basiese dienste soos elektrisiteit en water, begaanbare paaie en 'n funksionerende munisipale administrasie vorm die minimum grondslag waarop voortgebou moet word. Hy wil egter nie hê dat die munisipaliteit bloot daarmee tevrede moet wees nie.
"Ons moet daarna streef om Oudtshoorn voortdurend te verbeter en 'n beter dorp vir almal te bou."
Inwoners speel ook 'n rol
Hoewel die verantwoordelikheid vir munisipale bestuur by die raad en administrasie lê, glo Lambaatjeen dat inwoners ook 'n rol in die opbou van die gemeenskap het.
"My versoek aan elke inwoner van Oudtshoorn is dat ons dankbaar moet wees vir dit wat ons het, maar terselfdertyd nooit moet ophou streef na verbetering nie. Geen dorp of munisipale administrasie is perfek nie, want die mense self is nie volmaak nie."
Hy doen 'n beroep op inwoners om wetsgehoorsaam te wees, hul munisipale rekeninge te betaal en respekvol teenoor mekaar op te tree.
"'n Beter Oudtshoorn word nie deur een persoon of politieke party gebou nie, maar ook deur elke inwoner wat 'n bydrae lewer. Wees positief, moedig konstruktiewe gesprekke aan en bou saam aan 'n Oudtshoorn waarop ons almal trots kan wees. Ondersteun en bemoedig mekaar. Bid vir ons leiers en bid vir ons mense."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’