OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het op Vrydag 20 November by die United Congregational Church in Pacaltsdorp saam met hul Pacaltsdorp-kollegas en ander gemeenskapsrolspelers aan 'n mansdialoog deelgeneem, wat daarop gemik was om die stryd teen geweld teen vroue en kinders te versterk.
Die dialoog is aangebied as deel van verskeie inisiatiewe in aanloop tot die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders, waartydens verskeie kwessies rakende mans en uitdagings binne die gemeenskap bespreek is.
Verteenwoordigers van al 21 polisiestasies in die distrik, belanghebbendes, burgerlike samelewingsorganisasies en geloofsgebaseerde organisasies het die bekendstelling bygewoon.
Tans fokus die Oudtshoorn-, Bridgton- en Bongolethu-polisie sterk daarop om dié tipe kontakmisdade daadwerklik aan te spreek, aangesien daar wel 'n aansienlike toename in geslagsgebaseerde geweld (GGG) is, veral in Bridgton en Bongolethu.
Volgens Patrick Blaauw, voorsitter van die Tuinroete-distrik se gemeenskapspolisieraad (GPR) en 'n Oudtshoorn-inwoner, het die inisiatief ten doel om al 21 polisiestasies toe te rus om die stryd teen GGG en vrouemoord daadwerklik aan te pak.
"Die program is reeds aan die gang. Verteenwoordigers van alle polisiestasies samel data in hul onderskeie gemeenskappe in om vas te stel waar en wanneer geweld plaasvind, watter faktore daartoe bydra en wat die ouderdomme van die betrokkenes is," sê Blaauw.
Intussen het die Tuinroete-distriksraad se GPR op Saterdag 21 November 'n taakspan vir GGG en vrouemoord, asook 'n groep vrywilligers, by die Reebok-gemeenskapsaal in Groot-Brakrivier bekendgestel.
Die taakspan sal verskeie doelwitte nastreef om die stryd teen GGG en vrouemoord te versterk. Die program is reeds in die hele Tuinroete-distrik uitgerol, met vrywilligers wat aan elke polisiestasie gekoppel is.
Die Tuinroete-distriksbevelvoerder, brig.genl. Phumzile Cetyana, het die mansdialoog toegespreek en die polisie se verbintenis tot die bekamping van GGG en vrouemoord herbevestig.
Die geleentheid is afgesluit met die ondertekening van 'n verbintenis waarin die deelnemers hul steun toegesê het om kwesbare groepe, veral vroue en kinders, te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’