Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n 28-jarige man is in die hospitaal nadat hy in die vroeë oggendure van Vrydag 13 November tydens 'n skietvoorval met die Oudtshoorn-polisie in St. Johnstraat gewond is, ná 'n beweerde gewapende roof en huisbraak by 'n sakeperseel.
'n 29-jarige vrou wat saam met hom was, is in verband met die saak in hegtenis geneem.
Volgens AO Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die Oudtshoorn-polisie omstreeks 02:30 na die sakeperseel ontbied nadat 'n gewapende roof en huisbraak aangemeld is.
Tydens die voorval het die man na bewering 'n vuurwapen op die polisie gerig, waarna die beamptes skote afgevuur het.
Die man is in die skietvoorval gewond en na 'n nabygeleë hospitaal vir mediese behandeling vervoer.
Die vrou is nie beseer nie.
Die polisie het sake van poging tot moord, gewapende roof en huisbraak in verband met die voorval geopen.
"Die ondersoek na die roof en huisbraak duur voort, terwyl die poging-tot-moord-saak na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat [Opod] vir verdere ondersoek verwys is," het Spies gesê.
Die manlike verdagte is steeds in die hospitaal. Weens veiligheidsredes kan die naam van die mediese fasiliteit egter nie bekend gemaak word nie.
Die vroulike verdagte het Maandag 16 November in die hof verskyn. Haar saak is na 25 November uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’