OUDTSHOORN NUUS - Die eerste deel van Pediatric Care Africa se Donkeys Delivering Dreams is byna verby. Dr. André Hatting en sy span donkies het verlede Donderdag, 9 April, vanaf De Rust in die pad geval om 500 km ten bate van mediese sorg vir kinders te voltooi.
Die eerste deel van die rit eindig môre, Vrydag 17 April, in Dysselsdorp.
Al die geld wat met die rit ingesamel word, word aangewend vir Pediatric Care Africa se projekte om gratis mediese sorg aan mense in afgeleë areas van die Karoo te bied.
'n Deel van die geld sal ook aangewend word om die kinderafdeling van die Oudtshoorn-hospitaal te verfraai en toerusting aan te skaf.
Tydens die eerste deel van die rit het Doc André gesê die reën wat hulle langs die pad gevang het, was uiters welkom, maar nie iets waarvan donkies hou nie.
Met verlede jaar se rit het hy vir die eerste keer ervaar dat 'n donkie nie sommer deur water stap nie en soms botstil gaan staan as dit hard begin reën.
Met reën en 'n pap wiel van die ondersteuningsvoertuig, was die eerste vier dae nie sonder uitdagings nie. Met die eerste vier dae agter die rug, was die span Sondagaand in Calitzdorp vanwaar hulle Maandagoggend teruggedraai het na Oudtshoorn.
Woensdagoggend kon inwoners die donkies in Parkweg inwag op hul roete na Schoemanshoek.
Na die omdraai by Schoemanshoek is die span vandag, 16 April, op pad na Oudtshoorn en môre is dit die laaste skof tot by Dysselsdorp.
Die donkies en donkiekar word Vrydagmiddag na Klaarstroom vervoer waar die tweede deel van die rit Saterdag 18 April begin.
Die tweede deel volg die grondpad vanaf Klaarstroom tot in Willowmore en terug tot in Klaarstroom op Vrydag 24 April.
By Klaarstroom word die donkies en donkiekar weer op sleepwaens gelaai en deur Meiringspoort geneem. Sowat 5 km voor De Rust word die donkies weer ingespan en die rit van 500 km eindig dan om ongeveer 12:00 voor die De Rust Hotel.
Doc André nooi mense uit om hom langs die pad voor te keer. Hy het 'n goeie voorraad wortels by hom en 'n hele kop vol stories om aan kinders te vertel as hulle groet en die donkies met wortels bederf.
Vorige berigte:
- Motorfietsrit vir Caleb kry momentum
- Bike ride for Caleb
- Donkies ry vir kinders
- Motorfietse brul vir mediese sorg vir kinders
- 7 000km ten bate van kinders
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’