OUDTSHOORN NUUS - Dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa gaan vanaf 8 tot 24 April 'n 500 km rit op 'n donkiekar aandurf om twee kinders met serebrale gestremdheid te help.
Die doel is om geld in te samel vir kinders in die Karoo met serebrale gestremdheid en die hoop is om genoeg geld in te samel om buggies/rystoele vir die kinders te koop. Hierdie buggies, wat deur 'n arbeidsterapeut aangepas word, help kinders om meer onafhanklik en deel van hul gesinne se daaglikse lewe te wees.
Die toer 'Donkeys delivering dreams', word vanweë streng snelweg- en nasionale padregulasies, sowel as veiligheidsoorwegings, op grondpaaie gedoen. Volgens Joyce Crompvoets, Hattingh se vrou, sluit die roete De Rust, Middelplaas, Dysselsdorp, Oudtshoorn, Calitzdorp en weer terug via agterpaaie na Oudtshoorn en uiteindelik na De Rust. In Oudtshoorn beplan die span om verskeie skole met hul donkiekar te besoek.
Die totale afstand van 500 km sal oor 17 dae voltooi word, met 'n maksimum van 30 km per dag teen stapspoed.
Donkies se gesondheid prioriteit
Volgens Hattingh is die gesondheid en veiligheid van die donkies sy topprioriteit.
"Ses donkies sal in rotasie aan die reis deelneem, met twee donkies op bystand ingeval een beseer word. 'n Veearts en smid sal hulle elke week ondersoek, met 'n laaste kontrole twee dae voor vertrek.
Dr. Garth Ryder het sy dienste vir die hele reis aangebied. Elke donkie werk slegs elke derde dag en kry twee dae se rus. By opdraandes sal donkies uitgeruil word om die vrag te verlig. Die donkies kry toegang tot voer en natuurlike gras gedurende die rusperiodes."
Hy verduidelik dat die donkiekar spesiaal ontwerp is om liggewig en goed gebalanseerd te wees, met handgemaakte leerharnasse om ongemak of beserings te voorkom. Twee ervare donkiekenners met 80 jaar se gesamentlike ondervinding is deel van die span. Twee ondersteuningsvoertuie sal ook help met vervoer, veiligheid en voer.
Al die donkies word van 'n privaat eienaar in Dysselsdorp gehuur. Elke donkie moet 'n streng veeartsenykundige en smid-ondersoek slaag. Geen donkies wat tekens van verwaarlosing toon, word toegelaat nie. Enige verwaarlosing word onmiddellik aan die owerhede gerapporteer.
Waarom donkies?
Volgens Hattingh is donkies is nie net ikonies van die Klein-Karoo nie, maar word soms nie goed versorg nie. Hierdie projek wil bewustheid verhoog oor die waarde en behandeling van donkies. Daar word gehoop dat die publiek 'n nuwe waardering vir donkies sal ontwikkel en instellings soos die Donkieskuiling in Prins Albert sal ondersteun.
Hoe kan jy help?
Individue en besighede word uitgenooi om Hattingh per kilometer te borg of 'n eenmalige donasie aan Pediatric Care Africa te maak met verwysing "Donkies".
Alle donasies kwalifiseer vir 'n 18A-belastingsertifikaat.
n Vir meer inligting of om 'n donasie te maak, besoek Pediatric Care Africa se webwerf.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’