OUDTSHOORN NUUS - Die inhuldiging van Oudtshoorn se nuutverkose munisipale raad, wat aanvanklik vir gister, 18 November, beplan is, is tot môre, 20 November om 09:00 uitgestel.
Die munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, het die vergadering belê en gesê die uitstel is weens logistieke redes. Dit blyk egter dat koalisieonderhandelinge tussen die politieke partye ook nog nie afgehandel is nie.
Die uitstel kom te midde van belangrike politieke gesprekke oor die samestelling van die nuwe munisipale leierskap.
Geen enkele party het tydens die plaaslike regeringsverkiesing 'n volstrekte meerderheid in die raad behaal nie, wat beteken dat samewerking tussen partye nodig sal wees om 'n meerderheid te vorm.
Volgens die name wat in die Staatskoerant gepubliseer is, bestaan Oudtshoorn se raad uit 25 lede, naamlik 13 wyksraadslede en 12 proporsionele verteenwoordigers.
Die DA is die grootste party in die raad en het 10 van die 13 wyke gewen. Die ANC het die oorblywende drie wyke ingepalm.
Ná die proporsionele seteltoekenning het die DA altesaam 10 setels in die raad, gevolg deur die ANC met vyf, die PA en VF Plus met drie elk, en die Advieskantoor, die Bridgton Civic Association, die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) en die Restore Azania Movement elk een.
Hoewel die DA dus die grootste enkele party in die raad is, sal hy die steun van ander partye nodig hê om 'n meerderheid te verseker.
Die nuwe raad
Die volgende wyksraadslede is volgens die Staatskoerant as deel van die nuwe raad aangewys:
• Wyk 1: Johan Fourie (DA)
• Wyk 2: Andrew Kühn (DA)
• Wyk 3: Jacqueline Meyer (Jackie) (DA)
• Wyk 4: Fielies September (DA)
• Wyk 5: Claudine Lukas (ANC)
• Wyk 6: Jerome Lambaatjeen (DA)
• Wyk 7: Anél Berry (DA)
• Wyk 8: Mziwoxolo Tyatya (Zoe) (ANC)
• Wyk 9: Bruneline Harmse (DA)
• Wyk 10: Sharon van Rooyen (ANC)
• Wyk 11: Klaas Booysen (DA)
• Wyk 12: Samuel Meiring (DA)
• Wyk 13: Werner Junior Meyer (DA)
Die proporsionele verteenwoordigers is:
• Advieskantoor: Leon Campher
• ANC: Caroline Estelle Wagner-Windvogel en Bulelani Sbusiso Blaauw
• Bridgton Civic Association: Angeline LeKay
• Icosa: Vlancio Donson
• PA: Suzane Jansen, Colan Sylvester en Abraham Tiemie
• Restore Azania Movement: Mandilakhe Matika
• VF Plus: Johannes Jacobus Allers, Henriëtta Pretorius en Christo Vermaak.
Die eerste raadsvergadering is 'n belangrike stap in die samestelling van die nuwe munisipale leierskap. Tydens die vergadering moet die raadslede 'n speaker uit hul geledere verkies, waarna die burgemeester en, waar van toepassing, die onderburgemeester verkies word.
Alle oë is nou op Vrydag se vergadering en die uitkoms van die koalisiegesprekke gevestig. Totdat die nuwe leierskap verkies is, bly die vraag oor wie Oudtshoorn se volgende burgemeester gaan wees onbeantwoord.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’