OUDTSHOORN NUUS - Janie Lottering, oud-onderhoofdogter en oud-Struisie van Hoërskool Oudtshoorn se 2009-matriekklas, is een van die deelnemers aan die gewilde kookprogram Kokkedoor Klassiek.
Die oudisies vir die program het in die MasterChef-kombuis in Kaapstad plaasgevind, waar Lottering haar kulinêre talent en uitgebreide ervaring ten toon gestel het.
Sy is 'n gekwalifiseerde sjef met meer as 15 jaar se ervaring in die bedryf.
Haar indrukwekkende loopbaan sluit onder meer werk by bekende instellings soos La Colombe, La Motte en Leopards Leap Wynlandgoed in. Sy het ook vier jaar lank op passasierskepe gewerk, waartydens sy die wêreld deurkruis het. In 2022 is sy genooi om tydens die Fifa Sokkerwêreldbeker in Katar as hoofsjef van die Fan Village te werk, waar sy daagliks vir sowat 1 200 gaste moes kook.
Vir Lottering was deelname aan Kokkedoor Klassiek egter veel meer as net nog 'n professionele uitdaging.
"My ma, Hendrien Coetzee, is twee maande voordat die verfilming van Kokkedoor begin het, oorlede. Ek het gevoel hierdie geleentheid kan weer die wind in my kulinêre seile blaas nadat ek my beroep vir 'n jaar op ys gesit het," vertel sy.
Sy beskryf haar ervaring op die program as ongelooflik en sê alles, van die produksiespan en beoordelaars tot die stel en mededeelnemers, het gespreek van uitnemendheid.
"Van die dag wat ons daar aangekom het, was alles puik. Ja, ons is uitgedaag, dit is immers die doel van die program: om die goue middeweg tussen die Kinkelkok (sjef) en die Onthoukok (huiskok) te vind."
Sy vertel verder: "Ons persoonlikhede verskil, maar kos was ons gemeenskaplike grond en dit wat ons almal so goed bymekaargebring het. Ons het vinnig 'n familie geword, en dit was baie moeilik wanneer iemand ná 'n uitdaging die stel moes verlaat. Terselfdertyd was dit wonderlik om myself in die uitdagings te kon uitleef en my hart en siel op 'n bord te kon sit."
Lottering is oortuig daarvan dat kykers aangenaam verras gaan word deur Kokkedoor Klassiek, met genoeg spanningsvolle oomblikke om hulle op die punt van hul stoele te hou.
"Ek wil kykers aanmoedig om elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET (DStv) in te skakel en te ontdek hoe ons nuwe lewe in die plaaskombuis blaas en die goue middeweg laat blink."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’