Update
OUDTSHOORN NUUS - Die skielike dood van 'n geliefde polisie-sersant en sy vrou het 'n gemeenskap in rou gedompel en twee tieners sonder hul ouers gelaat.
David Jullies (46), 'n polisiesersant van die Oudtshoorn-polisie, en sy vrou, Eroline (40), beter bekend as Bubbles, is Saterdagoggend 14 November dood by hul woning in Petunialaan, Toekomsrus, aangetref. Die egpaar laat twee dogters, een in gr. 6 en die ander in matriek, agter.
Die Oudtshoorn-polisie het 'n moordsaak en 'n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die egpaar se liggame met skietwonde aan die kop in die kombuis gevind is. Mediese personeel het hulle op die toneel dood verklaar.
Die polisie het 'n vuurwapen op die toneel gevind en gekonfiskeer.
Volgens AO Chris Spies, polisiewoord-voerder, word die omstandighede rondom die voorval steeds ondersoek.
Hy sê die polisiebestuur betuig sy medelye met die familie. Die polisiediens se afdeling vir werknemergesondheid en -welstand is ook aangewys om professionele ondersteuning en bystand aan die familie en betrokke kollegas te bied.
'n Gemeenskap in rou
Die egpaar se skielike afsterwe het vriende, familie en kollegas diep geraak.
'n Vriend van David, wat vir anonimiteit gevra het, beskryf hom as iemand met 'n besondere kombinasie van kalmte, krag en warmte. "In die drie jaar wat ek hom leer ken het, het ek gesien hy het nie net die polisiewapen as 'n simbool van mag gedra nie, maar om sy gemeenskap te dien. Hy was ongelooflik lief vir sy vrou en kinders," het hy gesê.
Volgens hom was Eroline 'n vriendelike mens met 'n spontane persoonlikheid.
Die vriend het gesê die familie probeer steeds om die verlies te verwerk en het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om hulle ruimte te gee. "Ons vra dat die gemeenskap die familie se rouproses respekteer. Daar is baie gerugte en bespiegelinge wat tans bespreek word. Die waarheid is dat niemand werklik weet wat gebeur het nie, en ons vra dus dat mense nie moet spekuleer en die las wat die familie reeds dra nog erger maak nie," het hy gesê.
Kollegas betuig meegevoel
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het bevestig dat Eroline ten tyde van haar afsterwe by die verkeersdepartement in diens was.
Volgens Candice Biscombe, munisipale woordvoerder, betuig die munisipaliteit se bestuur sy opregte meegevoel aan die familie en naasbestaandes.
"Aangesien die ondersoek steeds aan die gang is, kan die munisipaliteit ongelukkig nie verder oor die aangeleentheid kommentaar lewer nie. Die saak val onder die jurisdiksie van die polisie en word tans deur hulle ondersoek."
David het sy polisieloopbaan in 2005 begin en was ten tyde van sy dood by die misdaadkantoor van die Oudtshoorn-polisie werksaam.
Familie vra privaatheid
Die egpaar se familie het aangedui dat hulle nie kommentaar oor die voorval wil lewer nie. Hulle vra dat hul privaatheid en behoefte aan tyd en ruimte gedurende hierdie moeilike tyd gerespekteer word.
'n Gedenkdiens vir David en Eroline vind op 24 November om 18:00 by die VGK plaas.
Die begrafnis is vir 28 November gereël. Die tyd sal later bekend gemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’