Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se nuwe stadsraad is vanoggend 20 November tydens ’n raadsvergadering amptelik ingehuldig, met Jerome Lambaatjeen van die DA as die nuwe burgemeester.
Lambaatjeen en Johan Fourie, albei van die DA, is onderskeidelik as burgemeester en onderburgemeester verkies. Johan Allers van die Vryheidsfront Plus (VF+) is as speaker aangewys.
Tydens die vergadering is ook verkiesings gehou om te bepaal watter partye Oudtshoorn op die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se raad gaan verteenwoordig. Die DA, ANC en VF+ het elk een setel verower. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal die name van die verteenwoordigers later bekend gemaak word.
In sy eerste toespraak as burgemeester het Lambaatjeen beklemtoon dat die nuwe raad se primêre verantwoordelikheid is om die inwoners van Groter Oudtshoorn te dien.
Hy het sy koalisievennote, die VF+ en Icosa, bedank en gesê die koalisie se beginsels is om dienslewering, integriteit, werkskepping en goeie bestuur bo politieke verdeeldheid te stel.
“Ons almal se politieke agtergronde verskil, maar ons dien hier saam vir een doel: om ons gemeenskap te dien. Ons is hier om die mandaat wat aan ons gegee is, uit te voer,” het hy gesê.
Volgens Lambaatjeen is die nuwe raad gereed om uitdagings gesamentlik aan te pak en te verseker dat die munisipaliteit op ’n verantwoordelike en deursigtige wyse bestuur word.
Hy het bygevoeg dat die raad daarop gaan fokus om ekonomiese geleenthede te skep, werksgeleenthede te bevorder, toerisme te verbeter en ’n gunstige omgewing vir ondernemings te skep.
“Ons wil eerlik verslag doen oor die vordering wat ons maak, en ons sal onsself aanspreeklik hou waar ons tekort skiet.”
Hy het sy toespraak afgesluit met ’n beroep op inwoners om die nuwe raad aanspreeklik te hou.
“Die raad behoort aan die Groter Oudtshoorn. Ons is net verkies om julle te verteenwoordig en te dien. Ons sal luister voordat ons besluite neem en ons sal sigbaar wees in ons gemeenskappe.
“Ons belofte is nie om perfek te wees nie, maar om met integriteit op te tree.”
Hy het die hoop uitgespreek dat die nuwe termyn ’n hoofstuk van stabiliteit, dienslewering, waardigheid en ’n gedeelde doel sal inlui.
“Die mense het die mag. Hulle het die mag gehad om ons in te stem, en hulle het die mag om ons uit te stem.”
Allers het die vergadering daarna tot Dinsdag 24 November om 10:00 verdaag, wanneer die oorblywende agendapunte bespreek sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’