OUDTSHOORN NUUS - Dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa is alombekend vir sy unieke maniere om geld in te samel vir mediese sorg aan behoeftiges.
Wanneer hy nie weke lank met 'n donkie-kar reis of duisende kilometers op sy motorfiets aflê nie, reël hy mediese uitreike na afgeleë gemeenskappe.
Op Donderdag 3 Desember pak hy saam met vrywilligers nóg 'n fondsinsa-melingsavontuur aan. Dié keer gaan hy 30 km in 'n rolstoel aflê wat deur vrywilligers gestoot sal word.
Volgens Hattingh vertrek hulle om 16:00 op 3 Desember vanaf die Doornkraal-padstal tussen Oudtshoorn en De Rust.
"Dit is ongeveer 30 km, en ons bereken dat dit tussen vyf en ses uur sal neem om ons eindpunt by die CP Nel-museum te bereik. Ons reël dit vir 3 Desember, want dit is die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede," sê Hattingh.
Die doel van die rolstoelrit is egter nie net om bewustheid oor die uitdagings van persone met gestremdhede te skep nie, maar ook om mense die geleentheid te bied om betrokke te raak en fondse by te dra. Aan die einde van die rit sal die rolstoel boonop aan 'n persoon met 'n gestremdheid geskenk word.
Dit is egter nie sommer enige rolstoel wat gebruik gaan word nie. Hattingh is tans besig om die rolstoel self te bou.
"Die idee is om 'n stoel te bou wat solied, sterker en meer gehard is, wat geskik vir 'n swaarder persoon is en rowwe paaie kan hanteer sonder om te breek. Ek oorweeg ook om die stoel met drie wiele te maak vir beter stabiliteit op ongelyke terrein," sê hy.
Hy en 'n aantal vrywilligers het twee jaar gelede ook die donkiekar gebou waarmee hy reeds twee fondsinsamelingsprojekte aangepak het.
Volgens Hattingh is die grootste uitdaging nie om die stoel te bou of om ses uur lank in die somerson daarin deur te bring nie. "Die groot uitdaging is om ons gemeenskap betrokke te kry.
Mense kan vir enige afstand wat hulle graag wil aflê kom help stoot. Hulle kan geld bydra, benodigdhede vir persone met gestremdhede koop en skenk, of ons bloot kom ondersteun," het hy vandeesweek gesê.
Hattingh nooi ook persone met gestremdhede om in Oudtshoorn by hom aan te sluit en die laaste 100 m, of selfs 'n langer afstand, op enige manier wat hulle kan saam met hom af te lê.
"Enigeen van ons kan op enige stadium 'n gestremdheid opdoen. Persone met gestremdhede moet raakgesien en erken word, en nooit as minderwaardige lede van ons gemeenskap beskou word nie. Mense met gestremdhede is ons almal se verantwoordelikheid," benadruk hy.
Vir meer inligting of om vrywillig tot die projek by te dra, skakel Joyce (076 229 5663), Demorian (081 086 1886) of Pediatric Care Africa (072 997 8041 of [email protected]).
Vorige artikels:
- Donkiekarrit by halfmerk
- Doc weer 500 km op donkiekar
- Donkies ry vir kinders
- Motorfietse brul vir mediese sorg vir kinders
- 7 000km ten bate van kinders
- Kleine Nahkesha kry wiele
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’