OUDTSHOORN NUUS - Isidore Langenhoven, ’n bekende eiendomsagent en geliefde gemeenskapsmens, is op 21 November oorlede.
Hy word onthou vir sy ruimhartigheid, sy liefde vir mense en diere, en die besondere vreugde wat hy in ander se lewens gebring het.
Sy lewensmaat, Eloise du Preez, beskryf hom as ’n man met ’n hart soos min. Volgens haar was sy vrygewigheid en opregte barmhartigheid vir ander van die eienskappe wat hom so geliefd gemaak het.
Langenhoven is in Ceres gebore en het later na Oudtshoorn verhuis, waar hy sy opleiding aan die polisiekollege ontvang het. Ná sy polisieloopbaan het hy hom toenemend op die eiendomsbedryf toegespits.
Du Preez vertel dat Langenhoven se belangstelling in eiendom aanvanklik as ’n stokperdjie begin het. Hy het huise gekoop, opgeknap en weer verkoop. Dit het uiteindelik sy beroep geword. Hy was meer as 23 jaar daarmee bedrywig, en het in 2011 die Rawson-franchise in Oudtshoorn oorgeneem. Dit was vir hom besonders om deel van ’n groot en bekende handelsnaam te wees.
Isidore Langenhoven, sy dogter, Lisia Voigt, en seun, Isidore jr. Foto: Verskaf
Langenhoven se liefde vir mense het egter veel verder as sy beroep gestrek. Volgens Du Preez het sy saggeaardheid hom diep in die gemeenskap gevestig, waar hy altyd bereid was om ander te help.
Die twee se paaie het in Desember 2023 by die Stompdrifdam gekruis, waar Du Preez met vakansie was. Hulle het mekaar in Junie 2024 weer daar raakgeloop, en die aantrekking was groter. Teen die einde van November 2024 het Eloise en haar dogter, Marli, by Langenhoven ingetrek. Hulle sou binnekort hul tweede jaar saam onder dieselfde dak vier.
Een van die dinge wat Eloise altyd van Langenhoven sal onthou, is sy aansteeklike lag. “Wanneer Isidore gelag het, het sy hele lyf saamgelag. Hy was veral trots op sy kinders: sy dogter, Lisia Voigt, wat onlangs haar 30ste verjaardag gevier het; sy seun, Isidore jr. [26]; en Marli du Preez [11], my dogter, wat hy gehelp grootmaak het en vir wie hy die enigste pa was wat sy ooit geken het.”
Eloise sê hulle wil graag hê dat mense Isidore sal onthou vir sy passie vir mense en diere, asook die liefde en vreugde wat hy met ander gedeel het.
Die familie wil ook die gemeenskap verseker dat Isidore se nalatenskap by Rawson Oudtshoorn sal voortleef, en dat die onderneming sal voortgaan om daarna te streef om die beste moontlike kliëntediens te lewer.
Isidore se gedenkdiens vind Donderdag 26 November om 11:00 by die NG Kerk Welgeluk in Van der Westhuizenstraat plaas. Die familie versoek dat mense kleurvolle klere na die gedenkdiens dra. Hulle wil nie net oor sy heengaan treur nie, maar ook sy mooi lewe vier en die vreugde onthou wat hy in soveel mense se lewens gebring het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’