Update
OUDTSHOORN NUUS - Die eerste vier getuies vir die verdediging het Dinsdag in Stephanus Olivier se saak getuig.
Olivier is in 2018 op verskeie seksuele klagtes in hegtenis geneem. Die aanklag hou met molestering, verkragting en pornografie verband.
Daar word beweer dat hy twee vroue, wat op daardie stadium minderjarig was, verkrag en seksueel aangerand het. Een van die voorvalle het na bewering in 2003 plaasgevind en die ander het glo in 2013 en 2015 plaasgevind. Van die voorvalle sou na bewering in die babakamer van 'n kerk, die PPK, plaasgevind het. Olivier het verlede week sy getuienis in die hof voltooi.
Die eerste getuie in Dinsdag se saak was pastoor Andrew Wagenaar wat ook aan die PPK verbind is.
Volgens hom is Olivier in 2004 by die kerk as pastoor aangestel en Wagenaar het in 2007 by die kerk aangesluit.
Wagenaar is vertroud met die gebou en babakamer waar die beweerde voorvalle sou plaasvind. Die eerste klaagster het getuig dat sy op 'n wit bedjie in die babakamer verkrag is. Volgens Wagenaar was hy egter nie bewus van 'n wit bedjie wat in die babakamer was of dat daar moontlike verkragtings deur Olivier gebeur het nie. Hy het getuig dat hy en 'n ander man en Olivier op 'n dag in 2018 in die bidkamer was toe een van die klaagsters en twee ander mans daar opdaag om items van haar te kom haal wat daar gestoor was. Volgens sy getuienis was die klaagster besig om te trek en het Olivier aan haar gevra of sy nie maar eerder wil bly nie.
Hy het verder getuig dat Olivier aan haar 'n bladsy gegee het om te lees en te teken wat Olivier ook daarna hardop aan die mense in die vertrek gelees het.
Volgens hom sou daarop staan dat nie Olivier of enigiemand anders van sy gesin die klaagster fisies, emosioneel of seksueel mishandel het nie. Volgens hom het hy sowel as die klaagster die bladsy onderteken en Olivier het R5 000 aan haar gegee wat glo was vir 'n bromponie van haar wat verkoop is. Sy is nooit gedwing om die bladsy te onderteken nie.
Adv. Michelle Weyers, staatsaanklaer, het dit egter aan hom gestel dat hy nie kan sê of daar 'n wit bedjie in die babakamer was nie omdat hy nie in 2003 daar was nie.
Getrina Jonkers en Francisca Sauer het ook getuig. Hulle was lidmate van die kerk, maar het ook skoongemaak en Sauer was lid van die kerk se sanggroep. Ook hulle is deur Christo van der Bergh, Olivier se regsverteenwoordiger, oor die wit bedjie uitgevra en nie een van hulle kon 'n wit bedjie onthou nie. Slegs Sauer was voor 2003 al deel van die gemeente. Hulle is ook deur Van der Bergh gevra wie almal toegang en sleutels tot die kerk gehad het. Beide van hulle het bevestig dat die pastore, wat voor Olivier aangestel was, aanvanklik vir hulle oopgesluit het vir sang en skoonmaak, maar dat Olivier in 2007, toe hy as pastoor ingehuldig is, ook 'n sleutel gehad het en ook vir hulle 'n sleutel gegee het. Adv. Michelle Weyers het dit egter aan hulle gestel, dat hoewel Olivier nie in 2003 sy eie sleutel gehad het nie, hy wel 'n sleutel by een van die ander twee pastore kon kry.
Lorna Wagenaar, Andrew se vrou en ook 'n lidmaat van die kerk, was die laaste getuie. Volgens haar was sy en haar man eendag vir kerksake by Olivier se huis.
"Een van die klaagsters, Olivier se vrou en ek het in die kombuis gesels. Sy het net teruggekom na sy na George verhuis het saam met haar kêrel. Ek het haar gevra hoekom sy nie wou terugkom nie. Sy het aan my gesê dat sy deur haar kêrel in Oudtshoorn verkrag is, maar dat Olivier se seun se gewese vrou vir haar gesê het om te sê dat Olivier haar verkrag het. Die klaagster het vir my gesê dat dit nie Olivier was wat haar verkrag het nie."
Die saak is na 14 Desember uitgestel vir die res van die verdediging se getuies.
Vorige artikels:
- Pastoorsaak vir verdere verhoor uitgestel
- Pastoor in Julie verder verhoor
- Pastoor se verhoor weens siekte uitgestel
- Staat sluit saak in pastoor-verhoor
- Pastoor se saak gaan voort
- Pastoor se saak na 2021 uitgestel
- Pastoor in selfisolasie
- Deskundige getuig in pastoor-saak
- Pastoor-verhoor: Klaer se ouers getuig
- Pastoor-verhoor gaan voort
- Eerste klaer getuig in pastoor-verhoor
- Opvolg: Pastoor pleit inverkragtingsaak
- Pastoor pleit in verkragtingsaak
- Pastoor se verhoor na môre uitgestel
- Klagtes nog nie gevoeg
- Pastoor se saak uitgestel
- Nog moontlike klagtes kom in pastoor-saak
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor en gemeente huil saam
- Pastoor op borgtog vrygelaat
- Pastoor vas vir beweerde verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'