OUDTSHOORN NUUS - Met die warmer maande wat voorlê en weerdienste wat ’n besonder warm en moontlik droë seisoen voorspel, word inwoners aangeraai om ekstra waaksaam te wees vir slange.
Mornay Thysse, Oudtshoorn se plaaslike slangvanger, waarsku dat slange veral na erwe gelok kan word waar tuinvullis, bourommel en ander materiaal ophoop. Dié plekke bied skuiling en lok knaagdiere soos muise en rotte, wat ’n voedselbron vir slange is.
Thysse sê is dit belangrik om erwe skoon en netjies hou om die moontlikheid van ongewenste slangbesoeke te verminder.
Lang gras, digte plantegroei, komposhope, houtstapels en hope klippe of boumateriaal kan ideale wegkruipplekke vir slange skep. Hy beveel aan dat gras gereeld gesny, struike gesnoei en rommel rondom huise verwyder word.
Inwoners wat hoenders of voëls aanhou, moet ook sorg dat voer veilig gebêre word en dat oorskietkos en gemorste saad nie muise en rotte lok nie. Hoenderhokke kan ook slange lok wat op soek is na eiers of kuikens.
Wat om te doen as jy ’n slang teëkom
Indien ’n slang in die huis of erf opgemerk word, is dit belangrik om kalm te bly en nie die dier te probeer vang, doodmaak of self verwyder nie.
Handhaaf ’n veilige afstand en hou die slang dop, indien dit veilig gedoen kan word, terwyl ’n slangvanger ontbied word.
Indien ’n slang binne die huis is, moet inwoners, waar moontlik, die vertrek verlaat en die deur agter hulle toemaak. Hou kinders en troeteldiere weg van die area.
Wanneer iemand ’n slang in die veld teëkom, moet die persoon stadig agteruit beweeg om die dier ruimte te gee om weg te beweeg. Moenie probeer om die slang te hanteer nie, veral nie as dit beseer is nie.
Stappers word aangeraai om stewige skoene eerder as plakkies te dra en om ’n stapstok te gebruik om voor hulle te voel waar hulle trap.
Ken die slange in die omgewing
Die slangsoorte wat volgens Thysse in die omgewing voorkom, sluit die bruin huisslang, eiervreter, Karoo-sandslang, rooilippie, skaapsteker, Kaapse kobra, pofadder en boomslang in.
Nie alle slange is giftig nie, maar inwoners moet nooit aanneem dat ’n slang onskadelik is bloot omdat hulle dit nie herken nie.
Thysse waarsku ook dat daar steeds ’n tekort aan teengif kan wees.
Wat as ’n slang jou pik?
Die belangrikste is om kalm te bly en so min as moontlik te beweeg. Beweging kan die verspreiding van gif deur die liggaam versnel.
Kry onmiddellik mediese hulp en moenie wag tot simptome ontwikkel nie. Skakel nooddienste of laat iemand jou na die naaste geskikte mediese fasiliteit neem.
Hou die gepikte ledemaat so stil moontlik. Verwyder ringe, horlosies en ander stywe items voordat swelling begin. Probeer onthou hoe die slang gelyk het of neem ’n foto van ’n veilige afstand af. Moenie tyd mors om die slang te probeer vang of doodmaak nie.
Moet nooit die bytplek sny, probeer om die gif uit te suig of ’n toerniket gebruik nie. Moenie ys op die wond plaas of die area met tradisionele middels probeer behandel nie.
’n Pofadderbyt kan onder meer erge swelling en blase veroorsaak. Moenie blase stukkend maak nie. Enige vermoedelike giftige slangbyt vereis dringende mediese beoordeling, selfs al is daar aanvanklik min of geen simptome.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’