DE RUST NUUS - Die unieke ondersteuningsnetwerk van die De Rust-gemeenskap word op Saterdag 7 November weer beklemtoon wanneer die dorp saamspan in die Blomkoppe-projek ten bate van borskanker.
Op dié dag gaan drie inwoners van De Rust hul koppe kaal skeer en drie kunstenaars gaan kleurvolle malvas op die 'blomkoppe' skilder.
Die projek se skepper is Freda Schoeman, wat 'n aantal maande gelede ook die Mal'va-projek in De Rust geloods het. Schoeman is kort na die ontstaan van die Mal'va De Rust-projek met borskanker gediagnoseer en moes haarself voorberei op die uitdaging van behandeling.
Haar antwoord is om die Project Flamingo in George, wat kankerpasiënte tydens behandeling bystaan, te ondersteun. Sy het aangebied om haar kop kaal te laat skeer en te laat beskilder om fondse vir Project Flamingo in te samel.
Nog twee inwoners, Marita Serfontein en Dolla Bruce, gaan ter ondersteuning van Schoeman ook hul koppe laat skeer en as skilderdoeke beskikbaar stel. Serfontein ken die pad en die uitdagings van behandeling teen borskanker goed nadat sy 11 jaar gelede ook gediagoseer was.
Die hele gemeenskap word uitgenooi om Saterdag 7 November by die Mal'va Blok langs die De Rust Hotel bymekaar te kom en aan die projek deel te neem.
Mense kan hul koppe ook kaal laat skeer as hulle braaf is, of hulle kan tydelike Malva-ontwerpe op hul hare laat aanbring, self blomme op ander deelnemers se koppe skilder, iemand borg om deel te neem of bloot 'n skenking maak.
Alle fondse wat ingesamel word, word aan Project Flamingo geskenk om mense met behandeling van borskanker te help.
Volgens Serfontein is Blomkoppe 'n viering van die lewe, vriendskap, kreatiwiteit en die merkwaardige krag van 'n gemeenskap wat saamstaan as een van hulle ondersteuning benodig.
Besonderhede oor Blomkoppe-dag op 7 November is op Mal'va De Rust se Facebook-blad beskikbaar. Vir verdere inligting en om deel te neem, skakel Serfontein by 084 701 4566
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’