OUDTSHOORN NUUS - "Die proses om 'n debuutroman tot publikasie te bring is loutere hel," sê Kruge Roeloffze van Oudtshoorn wat pas sy boek, Terugslag, gepubliseer het.
Hy sê 'n storie ontkiem vinnig, groei in die skrywer se kop, en dan word daar geskryf, uitgewis, weer geskryf en weer uitgewis totdat die storie na maande en maande uiteindelik voltooi is.
Alhoewel Terugslag Roeloffze se eerste gepubliseerde roman is, is dit die tweede een wat hy geskryf het.
Die eerste een, Eggo, het in 'n laai beland nadat die lang pad om 'n uitgewer te vind vir hom net te veel geword het. Daardie roman is pas ook vir publikasie aanvaar en behoort teen die eerste helfte van 2027 op die rakke te wees.
Terugslag getuig van deeglike navorsing en vernuftige skryfwerk, wat Roeloffze ontwikkel het deur self 'n ywerige leser te wees en kundige raad van gevestigde skrywers te volg.
Die verhaal neem die leser op twee storielyne wat om die beurt afspeel. In die een storielyn volg die leser vir Dries wat na Chile gaan om die dood van sy dogter, Petro, tydens 'n perdeuithourit te ondersoek. Met die ander storielyn ervaar die leser Petro se belewenis van die perderit en haar dood.
Die dialoog, karakterisering en beskrywing van die agtergrond in Chile is uitstekend. Roeloffze vertel dat hy elke karakter geskep het met 'n foto en in die fynste besonderhede om seker te maak dat hy of sy vir die leser lewendig en geloofwaardig is.
Hy het selfs foto's en beskrywings van elke perd wat die karakters op die perderit gebruik en het deeglike navorsing oor Chile gedoen.
"Die boek was aanvanklik twee verskillende stories - een van 'n dienspligtige wat sy makker per ongeluk doodgeskiet het, en een van die dood van 'n vrou tydens 'n perderit. Ek het my konsep heeltemal aangepas en dit in een boek ingespan," vertel Roeloffze.
Na voltooiing van die boek het die manuskrip van Terugslag egter ook saam met Eggo in die laai beland, maar 'n traumatiese gebeurtenis vroeër verlede jaar toe sy vrou, Annemarie, gesterf het, het hom laat besluit om die manuskrip vir publikasie voor te lê.
"Op 'n bloedige warm dag in Maart 2025 sterf my liewe Annemarie aan hitteuitputting in die Gamkaberg tussen Oudtshoorn en Calitzdorp.
My vrou vir 32 jaar, maar my beste maat vir 35 jaar. Sy het my altyd aangemoedig om aan te hou skryf, en vir haar moes ek die proses voltooi," skryf hy as nawoord in die boek.
Roeloffze het vroeër vanjaar besluit om op 62 af te tree en meer tyd aan sy skryfwerk en passie vir die buitelug en sport te wy. "Die dood van Annemarie het my net weer oor die lewe laat besin, en ek het besluit dit is tydmors om tot op 65 te wag om af te tree; ek wil nog te veel doen."
Hy het ook die nuus gedeel dat hy reeds met die skryf van 'n opvolgboek begin het, waar die antagonis in Terugslag se storie vertel word.
"Die hele storie is reeds in my kop; ek begin nou om dit op papier te kry," sê hy.
Terugslag word deur Kersligmedia uitgegee.
Vir meer inligting oor die boek en die skrywer, kontak Roeloffze by 082 417 7649.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’