Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 58-jarige pastoor wat verlede week op vyf aanklagte van verkragting en seksuele molestering van 'n minderjarige, by sy woning in Wesbank, in hegtenis geneem is, is Maandag op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Die man se identiteit is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar mag eers bekend gemaak word nadat hy in die hof gepleit het.
Volgens die klagstaat het een van die voorvalle by die kerk plaasgevind. Die voorvalle het na bewering in 2003 plaasgevind toe die klaagster 13 jaar oud was.
Tydens Maandag se hofverrigtinge het die staat nog twee klagtes van verkragting en seksuele aanranding by die klagstaat gevoeg. Dié voorvalle het glo in 2013 en 2015 plaasgevind.
Gemeentelede het die hofsaal vol gesit en saam met die pastoor in trane uitgebars toe landdros Johan Steynberg hom borgtog toestaan.
Christo van der Berg, die pastoor se prokureur, het 'n verklaring van die pastoor in die hof voorgelees.
Volgens die verklaring woon die pastoor en sy vrou reeds 21 jaar op Oudtshoorn en was hy werksaam by die munisipaliteit, maar is op vroeë aftrede weens sy gesondheid. Hy het ook in die verklaring gesê dat hy, behalwe vir sy vrou, ook drie kinders in Oudtshoorn het en een wat in Nieu Seeland woon.
Volgens hom het hy verskeie gesondheidskwessies, waaronder 'n naeltjiebreuk wat dit vir hom moeilik maak om op die grond in die tronk te slaap. Hy het belowe om die verhoor by te woon en dat al sy vuurwapens aan die polisie oorhandig is.
Ao. Fanie le Roux, die ondersoekbeampte, het in detail oor die meriete van die saak getuig.
Volgens hom het die eerste klaagster vir twee weke by die pastoor en sy vrou gewoon en die voorvalle het in daardie tyd gebeur. Volgens Le Roux het die pastoor die klaagster by sy kantoor asook die kerk verkrag en betas.
Die tweede klaagster is in die pastoor se woning sowel as die kerk verkrag en betas. Volgens Le Roux het die onsedelike aanrandings van die tweede klaagster moontlik al begin toe sy vyf jaar oud was.
Le Roux het getuig dat die kinders wel familielede daarvan vertel het, maar dat die familie dit wou toesmeer "omdat hulle wit en ordentlike mense is".
Volgens hom het die pastoor R800 aan die eerste klaagster en R1 050 aan die tweede klaagster gegee om nie oor die voorvalle te praat nie.
Hy het verder gesê dat 'n familielid naakfoto's waarin een van een die klaagsters uitgebeeld word, op die pastoor se rekenaar gekry het en die polisie het toe op sy werks- en persoonlike rekenaars beslag gelê.
Een van die klaagster het ook volgens Le Roux, 'n paar maande gelede met 'n polisieman probeer praat oor wat met haar gebeur het, maar sy het nie teruggegaan om 'n verklaring af te lê nie.
Le Roux sê verder dat hy by die munisipaliteit verneem het dat die pastoor vir oneerlike misdrywe by die werk aangekla is, maar dat daar nooit kriminele klagtes gelê is nie.
"In my 15 jaar as speurder het ek lanklaas so emosioneel gevoel toe ek grootmense hoor praat oor dit wat hulle as kinders moes deurmaak. Die mense is seer gemaak deur iemand wat hulle vertrou het."
'n Navraag van die Oudtshoorn Courant aan die munsipaliteit om te bevestig of die pastoor wel as gevolg van gesondheidsredes uit diens is, is teen spertyd nie beantwoord nie.
Die saak is tot 6 Desember uitgestel.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'