OUDTSHOORN NUUS - Die Vriende van die CP Nel-museum het met hartseer kennis geneem van die skielike afsterwe van Annette Schoeman (82), wat Vrydagoggend 23 Oktober na ’n klein operasie oorlede is.
Christo Smit, voorsitter van die Vriende van die CP Nel-museum, het Maandagmiddag 26 Oktober die hartseer nuus aan die Vriende oorgedra.
“Annette was vir baie jare nou betrokke by die museum en het ’n waardevolle bydrae tot die bewaring en dokumentering van Oudtshoorn se plaaslike geskiedenis gelewer. Haar bydraes was onder meer die indeksering van die Oudtshoorn Courant, die dokumentering van familiebesonderhede in Bybels, en die kuratorskap van die museum se versameling. Dit het ook die samestelling van ’n boekie oor die Schoemans van Schoemanshoek ingesluit.”
Schoeman het ook ’n versameling historiese foto’s van die Schoemanshoek-omgewing aan die museum geskenk.
“Benewens haar geskiedkundige werk sal sy ook onthou word vir haar hulpvaardigheid en die heerlike eetgoed, sop en toebroodjies wat sy deur die jare vir talle museumfunksies voorberei het,” sê Smit.
Jacoleen Marx, een van Schoeman se dogters, het Oudtshoorn Courant meer oor haar ma vertel. Schoeman het op ’n plaas in die Boomplaas-omgewing grootgeword en ook daar skoolgegaan. Haar hoërskooljare het sy in die voormalige meisieskool in Oudtshoorn voltooi.
Later is sy met Hekkie Louw Schoeman getroud. Die egpaar het ses kinders: Elzette le Roux, John Schoeman, Marx, Jacobus Schoeman, Jan-Louw Schoeman en Corné Schoeman.
Schoeman word ook deur 17 kleinkinders oorleef. “My ma het soveel talente gehad en was bitter lief vir blomme rangskik, kreatiewe handewerk en haar tuin. Sy het na my pa se afsterwe meer by die CP Nel-musuem betrokke geraak, op aandrang van haar goeie vriendin, Hilda Boshoff. Hoewel sy baie kennis van die omgewing en sy mense gehad het, sou sy dit nie sonder Alta le Roux, haar ander goeie vriendin, kon vermag het nie.”
Schoeman was bekend as ’n kampvegter vir Afrikaans en het botweg geweier om Engels te praat. “Sy kon die lekkerste maaltye voorberei,” sê Marx. “Kosmaak was haar passie, en sy het selfs vir nuwe idees Google ingespan. Sy het ons telkemale verstom met haar familiekennis en vermoë om datums korrek weer te gee.
“’n Ongelooflike ma wat nou ’n groot leemte in elkeen van ons agterlaat.”
Die troosdiens vind om 11:00 op Saterdag 31 Oktober vanuit die NG Kerk Kangovalleie in Schoemanshoek plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’