OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van Stephanus Olivier, wat teregstaan op 37 seksuele aanklagte, is verlede Donderdag en Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof voortgesit. Die eerste klaer in die saak se pa en stiefma, sowel as die tweede klaer se eksvriend se ma, Sonja Beneke, het in die saak getuig.
Volgens wet mag die Oudtshoorn Courant nie die name van die klaer se ouers bekendmaak nie, omdat die klaer se identiteit beskerm moet word.
Olivier, 'n pastoor van die PPK-gemeente op Oudtshoorn, is in 2018 by sy huis in Wesbank in hegtenis geneem. Hy het in Februarie vanjaar onskuldig gepleit op 37 seksuele aanklagte wat met pornografie, verkragting en molestering verband hou. Daar is twee klaers in die saak wat minderjarig was toe hy die beweerde seksuele dade met hulle gepleeg het. Hy is op 15 Oktober 2018 op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Die klaer se stiefma het Donderdag eerste getuig. Volgens haar het die klaer aanvanklik eers by haar biologiese ma gewoon, maar het op die ouderdom van vier by haar pa op Oudtshoorn kom woon.
Die klaer is glo deur die ma se vriend verkrag. Hoewel klagtes, volgens die stiefma se getuienis, gelê is, is die ondersoek nooit afgehandel nie en is die vriend nie in hegtenis geneem nie.
Volgens die stiefma het die klaer haar van die beweerde verkragtings deur Olivier vertel.
"My dogter was op daardie stadium 13 jaar oud. Sy het baie detensie gesit en ek het gedink dit is omdat sy 'n moeilike kind is. Sy het egter daardie dag aan my vertel dat sy nie werklik so baie detensie sit nie en dat Steven haar by die skool gaan haal en snaakse goed met haar doen."
Volgens die stiefma was sy geskok oor wat sy gehoor het en het sy en die klaer na Olivier se kantoor gery waar sy hom gekonfronteer het.
"Ek het vir hom gevra of hy bereid is om als te verloor waarvoor hy gewerk het en toe erken hy teenoor my wat hy gedoen het en hy het jammer gesê."
Volgens haar getuienis het Olivier vergifnis gevra en gesê hulle moet hom beskerm en gevra dat dit nie by sy vrou moet uitkom nie.
Volgens die stiefma het hulle hom beskerm en het hulle dit nie vir Olivier se vrou vertel nie omdat hulle mekaar baie goed geken het en gereeld by mekaar se huise gekuier het.
Sy het ook gesê dat hulle nie gedink het daar sal iets van die klagtes kom nie omdat hulle teen die klaer se eerste verkragter 'n saak gemaak het en daar niks van gekom het nie.
Sy het verder getuig dat Olivier een middag by hulle huis was en haar en haar man om verskoning gevra het vir wat hy gedoen het.
In die kruisverhoor het Christo van der Berg, Olivier se prokureur, dit aan haar gestel dat sy die klaer na Olivier toe gestuur het omdat die klaer leuens opgemaak het en aan mense vertel het dat sy die klaer aanrand en met 'n motor oor haar arm gery het. Die stiefma het dit beaam, maar gesê dat sy weet die klaer nie leuens oor die verkragtings sou vertel nie.
Van der Berg het tydens kruisverhoor verskille tussen die stiefma en die klaer se getuienis voorgehou.
"Daar sal verskille wees. Sy was 'n kind toe die goed met haar gebeur het. Jy kan nie van haar verwag dat sy als moet onthou nie," het sy getuig.
Van der Berg het ook aan haar gevra hoekom haar familie en die Olivier-familie na die beweerde voorvalle op die lappe gekom het, steeds saam gekuier het en steeds vakansie gehou het, waarop sy geantwoord het dat dit nie gereeld gebeur het nie.
Volgens die stiefma het Olivier se vrou van die voorvalle geweet, maar ontken sy dat dit die waarheid is.
Die klaer se pa het getuig dat hy geweldig kwaad was toe hy van die beweerde voorvalle hoor en dat hy Olivier wou skiet. Sy vrou het hom egter gekeer voor hy "iets vreesliks" kon doen.
Volgens sy getuienis was Olivier wel by hulle aan huis om verskoning te vra vir die beweerde seksuele voorvalle en is hy spyt dat hy stilgebly het.
Beneke het Donderdag getuig dat die twee klaers en haar seun uitgegaan het en vir 'n maand by hulle op Riversdal gebly het.
Volgens haar het die tweede klaer haar vertel dat Olivier seksuele dade met haar gepleeg het.
Die klaer het ook aan haar gesê dat niemand haar gaan glo nie omdat Olivier by 'n kerk betrokke is.
Die saak is na haar getuienis tot 12 en 13 Augustus uitgestel sodat die staat hul laaste drie getuies kan roep.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'