OUDTSHOORN NUUS - Musiekliefhebbers het verlede Woensdagaand, 21 Oktober, ’n koorbelewenis soos min in die St. Saviour-katedraal gehad.
Die koor van Langenhoven Gimnasium en die internasionaal bekende seunskoor van Duitsland, die Essener Domsingknaben, het saam opgetree in die opvoering, Katedraalklanke.
Die Essener Domsingknaben, oftewel die Essen-katedraal se seunskoor, is in 1961 gestig en het tans sowat 140 lede.
Jaarliks hou die koorleier bykans 8 000 oudisies met seuns wat by die koor wil aansluit, maar slegs ’n klein persentasie word aanvaar.
Die seunskoor het pas ’n toer van twee weke na Suid-Afrika afgesluit en het in Stellenbosch, George en Gqeberha opgetree voordat hulle
Woensdag in Oudtshoorn aangekom het. Hulle het Donderdag weer vertrek en het nog opvoerings in Kaapstad gehad voordat hulle die naweek na Duitsland teruggekeer het.
Die gesamentlike optrede van Woesdagaand is deur Retha van Zyl, koorafrigter van Langenhoven Gimnasium, en Anthea Taylor van die St. Saviour-katedraal gereël.
Ongeveer 60 lede van die seunskoor en 50 koorlede van Langenhoven Gimnasium het die opvoering gelewer en gesorg vir ’n onvergeetlike musikale ervaring. Gimmies se koor het die eerste gedeelte van die program gelewer, waarna die seunskoor vir een lied by hulle aangesluit het.
Na pouse het die seunskoor gewys waarom hulle internasionale bekendheid verwerf het. Die aand is afgesluit met ’n gesamentlike uitvoering van die twee kore.
Volgens Van Zyl het talle van Gimmies se koorlede wat vroeër vanjaar saam met die Suid-Kaapse Jeugkoor na Duitsland getoer het, daar reeds van die Essen-koorlede ontmoet en vriendskappe gesmee.
“Ons kinders het by gesinne van die Essener-koor gebly. Dit was ’n groot voorreg om die koor hier by ons te verwelkom en ons het gesorg dat hulle egte Suid-Afikaanse kos en Oudtshoorn-gasvryheid ervaar,” het sy gesê.
Die Duitse koorlede het darem tyd gehad om ’n volstruisplaas en die Kango-grotte te besoek en te proe hoe regte Suid-Afrikaanse boerewors, vetkoek, frikadelle, melktert, malvapoeding en pannekoek smaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’