Update
OUDTSHOORN NUUS - ‘n Pornografiedeskundige het Woensdag in die verkragtingsaak teen Stephanus Olivier getuig.
Olivier, die pastoor wat in 2018 in hegtenis geneem is, se saak het in die Oudtshoorn-streekhof voortgegaan.
Hy staan tereg op 37 klagtes wat met seksuele misdrywe verband hou. Van dit hou met pornografie verband en ander met verkragting en molestering van twee meisies.
Muridili Murendeni, ‘n pornografiedeskundige, het getuig oor ‘n onbekende hoeveelheid foto’s en DVD’s wat hy vir dié saak ontleed het.
Murendeni is ‘n werknemer van die film- en publikasieraad wat spesifiek opgelei is om films en foto’s te analiseer om te bepaal of dit pornografies is. Sy opleiding hou ook verband met elektroniese- en kubermisdrywe asook kinderpornografie. Van die opleiding is deur Interpol aangebied.
Volgens Murendeni is dit soms moeilik om die ouderdom van die kinders te bepaal en is daar ‘n fyn skeidslyn, veral by meisies in hul tienerjare, maar is daar verskeie riglyne waarvolgens hulle te werkgaan om die ouderdomme akkuraat te bepaal. Die foto’s wat op Olivier se elektroniese toestelle gevind is, is van verskeie pornografiese webtuistes afgelaai en volgens Murendeni se getuienis, is van die meisies wel minderjarig. Volgens sy getuienis was die meisies se ouderdomme tussen 13 en 18 jaar oud.
Murendeni het in sy getuienis gesê dat wanneer ‘n kind se geslagsdele eksplisiet op ‘n foto of in ‘n video gesien kan word dit as kinderpornografie beskou word. Daar word ook na die bedoeling van die film of foto gekyk en hoe eroties dit aangebied word. Volgens Murendeni kon ht ten minste 30 foto’s identifiseer waarop minderjariges is.
Hy het in kruisondervraging teenoor Christo van der Berg, Olivier se regsverteenwoordiger, erken dat die DVD’s wat in Olivier se besit gevind is net pornografie was en nie kinderpornografie nie.
Van der Berg het dit in kruisondervraging aan Murendeni gestel dat baie van die meisies op meer as een van die foto’s verskyn en dat die foto’s met dieselfde meisies dus nie aparte klagte behoort te wees nie.
Hy het verder klousules van die verskeie webtuistes afgetrek waarop hulle aandui dat al hul modelle bo 18 is. Volgens Van der Berg was sy kliënt weens die klousules op die webtuistes onder die indruk dat die modelle op die webtuistes meerderjarig is.
Advokaat Michelle Weyers wat vir die staat optree het dit aan Murendeni uitgewys dat die meerderheid van die webtuistes waar die foto’s afgelaai is se name dui daarop dat dit webtuistes is waarop tienerpornografie verkrygbaar is.
Murendeni het in sy getuienis gesê dat baie van die webtuistes nie in Suid-Afrika geregistreer is nie en dat die film- en publikasieindustrie hulle nie kan laat sluit nie.
“Sou mense klagtes by ons indien oor webtuistes wat in ander lande geregistreer is kan ons die klagtes net aan hulle hotlines rapporteur en hoop hulle maak die websites toe en haal die foto’s af.”
Die saak is na 11 September vir die laaste twee staatsgetuies uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'