OUDTSHOORN NUUS - Kiesers wat op 4 November hul kruisie trek, bepaal nie net wie hulle in die munisipale raad sal verteenwoordig nie, maar ook hoe hul dorp in die komende jare bestuur gaan word. Daarom is dit belangrik om nie bloot te stem nie, maar ook seker te maak dat die party en kandidaat wat jy ondersteun, jou waardes en verwagtinge weerspieël.
Só sê Lampies Lamprecht, oudburgemeester van Oudtshoorn, wat met Oudtshoorn Courant gesels het oor die belangrikheid van die stemmery en hoe kiesers kan besluit vir wie hulle hul stem moet gee.
Volgens Lamprecht is die belangrikste boodskap dat elke stem tel. "Baie mense sê hulle wil nie stem nie, maar wil ná die tyd kla oor die toestand van die dorp en die hoë tariewe. Die tweede belangrikste ding om te onthou is dat jy moet stem vir 'n party wat jou waardes deel."
Koalisieregerings bring uitdagings
Lamprecht sê Oudtshoorn se geskiedenis wys dat koalisieregerings uitdagings kan inhou, hoewel dit in 'n verdeelde politieke landskap dikwels onvermydelik is.
"Wanneer 'n party met 'n oorgrote meerderheid wen, hoef raadslede nie met kleiner partye te onderhandel om besluite goed- of afgekeur te kry nie. Die groot probleem lê egter by die onderhandelinge. Hulle eis topposisies, en dit is waar die probleem lê. Wie word uiteindelik in 'n koalisieregering verantwoordbaar gehou wanneer besluite skeefloop?"
Hy meen kiesers moet daarom nie net kyk na watter party hulle ondersteun nie, maar ook oorweeg hoe politieke partye ná die verkiesing sal saamwerk en wie verantwoordelikheid vir besluite sal aanvaar.
Ken jou raadslid
Volgens Lamprecht is dit ook belangrik dat kiesers hul wyk se kandidate leer ken en navorsing doen voordat hulle stem.
Die raadslid wat vir 'n bepaalde wyk verkies word, is verantwoordelik om die belange van al die inwoners in daardie wyk te verteenwoordig, ongeag hul politieke voorkeur.
"Daarom is dit belangrik om te gaan kyk watter partye en kandidate in jou wyk staan. Ken jou raadslid. Doen navorsing en, selfs al wen die kandidaat vir wie jy nie gestem het nie, maak seker dat jy weet wie dit is."
Lamprecht moedig inwoners ook aan om by wykskomitees betrokke te raak. Dit bied hulle 'n geleentheid om 'n bydrae tot hul gemeenskap te lewer en probleme onder die munisipaliteit se aandag te bring.
Kwessies soos slaggate, wateronder-brekings, vullisverwydering, swak straat-beligting en die instandhouding van openbare ruimtes kan deur dié strukture aangespreek word. Inwoners kan ook help om te bepaal watter probleme die dringendste aandag nodig het.
Kiesers dra ook verantwoordelikheid
Lamprecht sê daar rus 'n groot verantwoordelikheid op die kandidate wat aan die verkiesing deelneem om Oudtshoorn weer 'n topdorp te maak.
Volgens hom moet die dorp verteenwoordig word deur mense met die nodige opleiding en vermoëns, wat beide inwoners en die plaaslike sakegemeenskap se belange op die hart dra. Die verantwoordelikheid rus egter nie net by die kandidate nie, maar ook op die kiesers wat hulle verkies.
"Maak seker wanneer jy op 4 November stem, dat jy vir die party stem wat die regte beleid daar sal stel, maar wat ook 'n goeie opposisie in die raad kan wees om die regerende party op sy tone te hou."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’