DE RUST NUUS - Die Delport-broers Boerdery op Middelplaas buite De Rust het op 20 Oktober die hoogste prys by die House of Fibre-sybokhaarveiling behaal.
Hul Super Style Winter Kid-baal, met 'n veseldeursnee van 25,2 mikron en 'n skoon-opbrengs van 92,2%, het 'n indrukwekkende R950 per kilogram behaal.
Die prestasie is besonder noemenswaardig teen die agtergrond van uitdagende marktoestande.
Volgens 'n verslag van House of Fibre het die algehele sybokhaarmarkaanwyser tydens die veiling met 5% tot R357,90 per kilogram gedaal.
Van die 168 569 kg sybokhaar wat aangebied is, is slegs 73% verkoop. Volgens die jongste markverslag het swakker vraag uit Asiatiese markte druk op pryse uitgeoefen.
Teen dié agtergrond staan die Delport-broers se prestasie uit en beklemtoon dit die waarde wat kopers steeds aan gehalte-sybokhaar heg.
Dié vooraanstaande, veelsydige boerdery behoort aan Bernard Delport, sy broer Johannes, en Johannes se seun, Francois, wat ook onlangs by hulle aangesluit het.
Johannes is betrokke by die besproeiing en verbouing van groentesaad en Francois boer met volstruise, maar Bernard se hart lê by die angorabokke.
Hy het in 2017 met angorabokboerdery begin en glo dat die Klein-Karoo uitstekende toestande vir dié soort boerdery bied.
Bernard Delport is op sy gelukkigste tussen sy bokke. Foto: Verskaf
"Ek het regtig 'n passie vir angoras. Ons het so nege jaar gelede 300 bokke op 'n veiling gekoop en absoluut geen idee gehad hoe 'n angoraboerdery werk nie. Ons het aanvanklik ook met skape geboer, maar my belangstelling in sybokhaar het gegroei namate ek die bokke beter leer ken het. Dit is net 'n ongelooflike dier met soveel ander fasette as skape, veral as jy die hare en bouvorm van die twee diere vergelyk."
Bernard sê die sukses in hul boerdery lê in die samewerking en gedeelde passie van die span.
"Die familie en werkers speel almal 'n rol. My vrou, Hannerie, sê maklik dat ek amper liewer vir die bokke as vir hulle is, maar sy deel beslis my passie en maak die hanslammetjies groot. Phillip Schutte, ons veldamptenaar, se bydrae is onmeetbaar. Hy help baie met seleksie van bokke en die klas van die hare. Ons werkers deel my geesdrif en werk mooi met die diere. Dit maak dit lekker as jy 'n span het wat saamwerk om dieselfde doelwit te bereik."
Gehalte begin by die bok
Volgens Bernard beïnvloed verskeie faktore die prys wat sybokhaar op 'n veiling behaal, waaronder die veseldeursnee, stapellengte, veselgehalte en skoonopbrengs.
Die baal het 'n veseldeursnee van 25,2 mikron gehad. Mikron verwys na die gemiddelde dikte van die vesels, terwyl die skoonopbrengs van 92,2% aandui hoeveel van die baal se gewig ná die verwydering van onsuiwerhede as skoon vesel oorbly.
Bernard sê hulle het onlangs begin om die Every Goat Tested (EGT)-stelsel te gebruik.
"Dit is 'n objektiewe meet- en klassifikasiestelsel waarvolgens elke angorabok se hare voor die skeerproses in 'n laboratorium ontleed en volgens veseldeursnee en stapellengte geklassifiseer word. Die stelsel gee produsente meer presiese inligting oor die veselgehalte van individuele bokke en help hulle om ingeligte besluite oor hul kuddes en teelprogramme te neem."
Hy skryf die hoë skoonopbrengs van hul sybokhaar onder meer toe aan die manier waarop hulle hul bokke bestuur.
"Die grootste faktor wat bydra tot die skoonopbrengs is wanneer jy die bokke dip. Ons dip die bokke lank voor ons hulle skeer. Ons bokke wei ook in lande, en ek skeer elke drie maande die agterkante en kuiwe. Dit keer dat mis aan die hare vassit en help om klitsgrasse uit die hare te hou."
Vir Bernard is die fokus op gehalte 'n belangrike deel van sy angorabokboerdery.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’