OUDTSHOORN NUUS - "Die voorval waar een van ons beamptes genoodsaak was om sy vuurwapen te gebruik, bewys dat 'n gewapendereaksie-eenheid met goeie opleiding vandag noodsaaklik is."
Só het Pieter Meiring, operasionele bestuurder van MSec Security, Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê na 'n voorval waar een van MSec se beamptes 'n verdagte, wat na bewering koperpype afgebreek en probeer steel het, geskiet en gewond het.
Die voorval het Saterdagoggend, 24 Ok-tober, in Jonesstraat gebeur.
Die verdagte is per ambulans hospitaal toe geneem en volgens voorlopige inligting is hy intussen na 'n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas. Volgens inligting wat bekom is, het 'n groep mans glo koperpype van lugversorgers by die Queen's Mall afgebreek. Hulle is egter betrap en het op die vlug geslaan.
Dit blyk dat die gebou gereeld onder vandalisme en diefstal deurloop, wat die eienaars genoop het om kameras en bewegingsensors agter die gebou aan te bring.
Die mans is Saterdagoggend omstreeks 07:30 op kameras gesien terwyl hulle die koperpype afbreek. Sekuriteitspersoneel het gereageer en die mans het met die rivier langs gevlug. Die voorval en 'n beskrywing van die mans is deur die polisie, sekuriteitsmaatskappye en buurtwag versprei.
Volgens Meiring was MSec se reaksie-eenheid deel van die span wat na die verdagtes gesoek het.
Een van die reaksielede het volgens die beskrywing wat gesirkuleer is een van die verdagtes in Jonesstraat gesien en voorgekeer. Volgens die beskikbare inligting het die verdagte glo 'n vuurwapen te voorskyn gebring.
Die MSec-beampte het sy eie vuurwapen uitgehaal en die verdagte geskiet. Die koeël het die verdagte in die nek getref. Die beampte het onmiddellik die voorval by sy beheerkamer aangemeld en nooddienste gekontak.
Met die aankoms van die polisie het die gewonde man in die straat gelê met ernstige bloeding uit die wond. Noodhulp is toegepas totdat paramedici op die toneel aangekom het.
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die toneel was daar nie sekerheid of die vuurwapen wat die verdagte uitgehaal het 'n werklike een of 'n replika was nie.
Dit moet nog deur die polisie bevestig word. Meiring het Maandag gesê hy kan ook nie bevestig of die vuurwapen 'n replika was totdat hy 'n amptelike verslag van die polisie ontvang het nie.
"Ek het die beampte Saterdag ná die voorval besoek, en volgens die inligting wat ek ontvang het, was sy optrede heeltemal geregverdig.
Ons reaksielede word deeglik opgelei in die hantering van vuurwapens en ook in die wetlike aspekte rondom die gebruik van vuurwapens. Hulle primêre doel is om beskerming te verleen. In hierdie geval het die opleiding onmiddellik ingetree en het die beampte 'n moontlike lewensgevaarlike situasie vinnig en doeltreffend hanteer," het Meiring gesê.
AO Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, het gesê 'n ondersoek na die voorval is tans aan die gang.
Tweede voorval
Intussen was daar Maandag 26 Oktober omstreeks 13:00 ook 'n skietvoorval in Reggie Oliphantstraat in Smartie Town.
Volgens beskikbare inligting is 'n verdagte glo deur 'n lid van die polisie geskiet en gewond. Spies het by navraag gesê 'n dossier vir poging tot moord is geopen en dat die saak na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) verwys is vir ondersoek.
Geen verdere inligting oor dié voorval is tans bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’