Update
OUDTSHOORN NUUS - Die staat het Dinsdag hul saak in die verhoor van Stephanus Olivier, die pastoor wat teregstaan op 37 aanklagte wat met seksuele misdrywe verband hou, gesluit nadat die laaste twee getuies voor die hof was.
Van die klagtes hou met pornografie verband en ander met verkragting en molestering van twee meisies wat ten tyde van die voorvalle minderjarig was.
Olivier is in 2018 by sy huis in Wesbank in hegtenis geneem.
'n Minderjarige familielid het Dinsdag eerste getuig. Hy het gereeld by Olivier en sy gesin aan huis gekom en rekenaarspeletjies gespeel. Volgens hom speel hy gewoonlik op sy eie rekenaar, maar wou hy 'n speletjie op Olivier se rekenaar laai sodat ander kinders, wat ook daar was, saam kon speel.
Volgens hom het hy pornografiese foto's op Olivier se rekenaar gesien. Die seun het sy ma daarvan vertel omdat hy gevoel het dat dit verkeerd is en hy dit met Olivier se vrou wou deel omdat hy gevoel het dis die regte ding om te doen.
Sy ma het aan hom gesê dat hy 'n program moet gebruik en 'n video maak wat wys hoe om by die lêer uit te kom sodat hy dit aan Olivier se vrou kan wys. Hy het ook die foto's wat op die rekenaar was op die video gelaai. Volgens die seun het hy Olivier se hand en horlosie op een van die foto's herken waar die hand aan 'n naakte meisie, een van die klaers, gevat het.
Die seun se ma was die laaste getuie in die saak. Haar naam word weerhou om die identiteit van die minderjarige getuie te beskerm. Sy het getuig dat sy wel haar seun gevra het om die video te maak, maar het nie geweet hy gaan die foto's bysit nie. Hy het 'n kopie van die video op 'n stokkie vir sy ma gegee. Volgens haar het sy Olivier se vrou oor die foto's vertel omdat sy vir haar kinders, wat baie by die Oliviers gekom het, se veiligheid gevrees het. Olivier se vrou het haar gevra dat sy dit 'n geheim moet hou. Olivier het ook met haar gepraat en gesê dat hy 'n probleem het en dat hy sal hulp kry en uit die kerk bedank.
Volgens die vrou het een van die klaers haar in 2018 gebel waarna sy aan die klaer gesê het dat sy van die foto's weet. Volgens haar getuienis het die klaer aanvanklik kwaad geraak oor dit en dit ontken. "Die klaer het my later vir blyplek gevra omdat sy geen ander heenkome gehad het nie. Ek het haar verblyf aangebied en sy het my van die foto's en verkragting vertel. Ek het gesê ek sal haar ondersteun indien sy 'n klag wou lê. Ek het na die klag gelê is, die stokkie met die video aan ao. Fanie le Roux, die ondersoekbeampte, oorhandig."
Volgens haar was die kwaliteit van die video nie meer goed nie omdat haar seun dit aanvanklik van die rekenaar afgevee het en later weer herwin het. Dit was dus moeilik om uit te maak wat op die video was.
Christo van der Bergh, Olivier se regsverteenwoordiger, het in kruisondervraging vir die vrou gesê dat sy in 'n egskeidingstryd met een van Olivier se familielede betrokke was en dat sy slegs die inligting wou gebruik om die man en Olivier te na te kom en hulle af te pers. Van der Bergh het ook gesê dat Olivier se vrou die gesprek ontken het, waarin sy gevra het om die pornografie 'n geheim te hou en dat Olivier nooit om verskoning gevra het of gesê het hy sal by die kerk bedank nie, omdat daar nooit so 'n gesprek was nie.
Van der Bergh het ook aangedui dat Olivier self in die saak gaan getuig. Die saak is tot 19 en 20 April uitgestel sodat die verdediging met hulle saak kan begin.
Vorige artikels:
- Pastoor se saak gaan voort
- Pastoor se saak na 2021 uitgestel
- Pastoor in selfisolasie
- Deskundige getuig in pastoor-saak
- Pastoor-verhoor: Klaer se ouers getuig
- Pastoor-verhoor gaan voort
- Eerste klaer getuig in pastoor-verhoor
- Opvolg: Pastoor pleit inverkragtingsaak
- Pastoor pleit in verkragtingsaak
- Pastoor se verhoor na môre uitgestel
- Klagtes nog nie gevoeg
- Pastoor se saak uitgestel
- Nog moontlike klagtes kom in pastoor-saak
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor en gemeente huil saam
- Pastoor op borgtog vrygelaat
- Pastoor vas vir beweerde verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'