OUDTSHOORN NUUS - Die aantygings dat hy die twee klaers seksueel aangerand en verkrag het, is absurd en totaal onwaar.
So het pastoor Stephanus Olivier, wat teregstaan op 37 aanklagte - drie van verkragting, vier van seksuele aanranding en 30 van die besit van pornografiese materiaal, verlede week met die voortsetting van sy verhoor in die Oudtshoorn-streekhof getuig.
Die beweerde voorvalle het glo in 2003 plaasgevind toe die twee klaers onderskeidelik 13 en 14 jaar oud was.
Olivier het tydens kruisondervraging deur die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, meer as een keer erken dat hy foute in sy hoofgetuienis gemaak het.
“Dit is so lank terug en ‘n mens kan nie alles onthou nie. Ek probeer nie die hof mislei nie en as dit so voorkom vra ek om verskoning. Ek is ‘n mens. Ek maak foute. Ons almal is mense en die verhoor duur al byna drie jaar,” het Olivier op ‘n keer aan Weyers gesê.
Hy het ontken dat hy aan sy swaer, Johan de Jager, sou gesê het dat hy baie jammer is oor wat gebeur het.
Volgens Olivier het beide klaers by geleentheid dokumente onderteken waarin hulle ontken dat hy hulle gemolesteer het.
Oor R5 000 wat hy aan die tweede klaagster gegee het, het Olivier getuig dat dit gedoen is voor die ondertekening van die dokument.
Hy het ook ontken dat hy vroeër getuig het dat die tweede klaagster nooit saam met hom na sy kantoor gegaan het nie.
“Wat ek gesê het is dat sy wel by tye saam met my kleinkinders na my kantoor gegaan het.”
Sy het dit egter aan hom gestel dat hy tydens sy antwoorde op vrae van sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, baie oortuigend was met sy antwoorde.
Weyers het die ook aan die beskuldigde gestel dat dit blyk dat al die getuies tot dusver nie die waarheid praat nie, net hy.
“Wat ek vandag getuig is die waarheid en indien dit van my getuienis in hoof verskil is dit oorsig van my kant af,” het Olivier getuig.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is vir voortsetting van die beskuldigde se kruisondervraging uitgestel tot 15 Julie en daarna op 21 Julie.
Volgens sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh is die uitstel van die verhoor vir baie lank ‘n probleem omdat hy nie met die beskuldigde mag praat terwyl hy onder kruisondervraging is nie. Hy het ook gesê die verdediging sal nog vyf of sewe getuies roep.
Olivier se borgtog van R10 000 en borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
Vorige artikels:
- Pastoor se verhoor weens siekte uitgestel
- Staat sluit saak in pastoor-verhoor
- Pastoor se saak gaan voort
- Pastoor se saak na 2021 uitgestel
- Pastoor in selfisolasie
- Deskundige getuig in pastoor-saak
- Pastoor-verhoor: Klaer se ouers getuig
- Pastoor-verhoor gaan voort
- Eerste klaer getuig in pastoor-verhoor
- Opvolg: Pastoor pleit inverkragtingsaak
- Pastoor pleit in verkragtingsaak
- Pastoor se verhoor na môre uitgestel
- Klagtes nog nie gevoeg
- Pastoor se saak uitgestel
- Nog moontlike klagtes kom in pastoor-saak
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor en gemeente huil saam
- Pastoor op borgtog vrygelaat
- Pastoor vas vir beweerde verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'