OUDTSHOORN NUUS - Werk om die R328 tussen Oudtshoorn en die Kango-grotte weer oop te stel is volstoom aan die gang.
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die pad by De Kombuys op Dinsdag 16 Junie, was 'n span hoog teen die kranse besig om met lugdrukbore gate in die rotswand te boor as ankerpunte vir die staal veiligheidsnette wat aangebring word.
Veiligheidsnette is reeds die afgelope aantal dae oor 'n groot gedeelte van die rotswand aangebring. Volgens een van die kontrakteurs wat Dinsdag op die terrein was, sou die nette teen Woensdag in plek wees sodat die proses kan begin om die rotse op die pad te verwyder.
Oudtshoorn Courant het Woensdagoggend, kort voor saktyd, bevestig dat Van der Berg Vervoer en Volmoed Quarries aangestel is om die verwydering van die rotse te behartig en Woensdag reeds op die terrein was om te begin.
Volgens Danie van der Berg, word die verwydering stap-vir-stap beplan om die veiligheid van mense te verseker. Dit is nog nie duidelik hoe lank die opruiming van tonne en tonne materiaal sal duur nie.
Behalwe vir dié gedeelte by De Kombuys wat reeds langer as vier weke gesluit is, word daar ook op drie ander plekke op die pad aan beveiliging en opruiming gewerk. Die pad is by hierdie gedeeltes slegs vir eenrigtingverkeer oop en verkeer word by drie stop/ry-punte gereguleer.
Petisie het nie invloed op prioritisering nie
Oudtshoorn Courant het Maandag 'n navraag aan die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, gestuur nadat 'n petisie vir die spoedige oopstel van die pad verlede week deur belanghebbendes aan die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, oorhandig is.
Simmers se mediabeampte, Melt Botes, het Dinsdag in reaksie op die navraag gesê die departement wil dit onomwonde stel dat die petisie geen impak gehad het op die prioritisering van projekte nie.
"Objektiewe kriteria word gebruik om projekte te prioritiseer. Die betrokke pad is een van verskeie projekte wat reeds geprioritiseer is. Bewys hiervan is die aanstelling van 'n kontrakteur en raadgewende ingenieurs wat reeds met werk begin het," lui 'n gedeelte van die verklaring.
Botes sê ook dat daar nie op hierdie stadium 'n vaste tydlyn vir die projek is nie omdat daar versigtig gewerk moet word om verdere skade of bykomende rotsstortinge te vermy. "Verdere rotsstortings het die potensiaal om hierdie roete heeltemal te verwoes. Dit sluit in dat 'n verdere rotsstorting ook die privaat pad wat tans as noodmaatreël gebruik word, kan blokkeer."
Hy het die versekering gegee dat die departement ten volle bewus is van die impak wat die sluiting van die pad en skade op talle ander paaie, op mense het.
"Die departement is bewus van elke pad wat geraak is. Die departement werk onverpoosd oor die hele padnetwerk om alles so spoedig moontlik na normaal te laat terugkeer," het hy gesê.
Vorige berigte:
- Besigheidskamer eis verklaring van Klein-Karoo as rampgebied
- Meiringspoort verlam ook Prins Albert
- Rotsstorting sny inkomstestroom uit toerisme af
- Grottepad steeds gedeeltelik gesluit na rotsstorting
- Jong man verdrink in Meiringspoort
- Insamelingsveldtog vir Cango Wildlife
- Meiringspoort-vloed: Klein-Karoo se slagaar afgesny
- Meiringspoort Challenge afgestel
- Garden Route braces for intense cold fronts with heavy rain, strond winds and snow
- Garden Route/Karoo storms: Road closures and storm updates
- Guests remain stranded at Cango Mountain Resort and flooding crisis
- Volstruise vrek weens vloede
- Begrafnisse tydelik uitgestel weens reen en versadigde grond
- Oudtshoorn berei voor op swaar reen
- 50 Mense sit vas in Meiringspoort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’