OUDTSHOORN NUUS - Twee sportgeleenthede in die Klein-Karoo is gekanselleer en 'n ander se inskrywingsdatum het verander weens ernstige storm- en vloedskade die afgelope week.
Die Meiringspoort Challenge wat op 16 Mei in Meiringspoort buite De Rust sou plaasvind sowel as die 36ONE MTB Challenge, wat vir 22 Mei geskeduleer was is gekanselleer.
Terselfdertyd is aangekondig dat die inskrywingsdatum vir die Meiringspoort21-padwedloop met een maand uitgestel word om voldoende tyd te gee vir herstelwerk, verdere evaluering en konsultasie met relevante owerhede.
Organiseerders het hul teleurstelling uitgespreek, maar beklemtoon dat die besluit in die beste belang van alle betrokkenes geneem is.
Meiringspoort Challenge
Volgens Henkie du Plessis, 'n organi-seerder van Meiringspoort Challenge, kan die geleentheid nie voortgaan nie weens die skade aan Meiringspoort en bly die veiligheid van deelnemers, ondersteuners en die organiseerders die hoogste prioriteit.
"Groot dele van die roetes is weggespoel en verskeie gedeeltes van Meiringspoort het ernstige skade opgedoen wat dit onveilig maak. Ons harte is swaar ná maande se voorbereiding en opgewondenheid, maar veiligheid moet eerste kom."
Volgens hom was hierdie nie 'n besluit wat ligtelik geneem is nie.
"Daar is massiewe strukturele skade aan die pad. Al die reëlings was getref, medaljes was gemaak en alles was gereed, maar vir veiligheid kon ons nie voort gaan nie. Ons gaan wel volgende jaar in Meimaand voort."
Verdere kommunikasie rakende registrasies, moontlike terugbetalings en die opsie om donasies te maak, sal binnekort aan deelnemers gekommunikeer word.
Die organiseerders het deelnemers en ondersteuners bedank vir hul begrip, ondersteuning en geduld gedurende hierdie uitdagende omstandighede.
Meiringspoort21-padwedloop
Voorbereidings vir vanjaar se Meiringspoort21-padwedloop vorder goed, maar vloedskade het veroorsaak dat die inskryfproses met een maand uitgestel is.
Volgens die organiseerders word daar tans intensief gewerk om te verseker dat deelnemers en ondersteuners steeds 'n veilige en aangename wedloopervaring kan geniet wanneer die geleentheid op 10 Oktober in De Rust plaasvind.
Organiseerders sê die situasie was buite hul beheer en vra deelnemers se begrip terwyl aanpassings gemaak word in belang van veiligheid en gehalte.
Aanlyn inskrywings
Alle inskrywings sal uitsluitlik aanlyn via die wedloop se webblad by www.meiringspoort21.com geskied.
Voorkeur- of voorafinskrywings vir deelnemers wat die 2025-wedloop voltooi het, open op Saterdag 27 Junie om 06:00.
Die res van die beskikbare inskrywings open op Saterdag 4 Julie om 06:00.
Organiseerders waarsku dat deelnemers aangeraai word om vroeg in te skryf om teleurstelling te voorkom.
Die inskrywingsfooi beloop:
- R400 vir die 21,1 km-wedloop
- R350 vir die 12,5 km-wedloop
- Nie-klublede sal 'n tydelike lisensie van R55 moet betaal. Bank- en inskrywingsportaalfooie, ongeveer 4,6%, is vir deelnemers se eie rekening.
Entry Ninja-stelsel
Die gewilde Entry Ninja-aanlynplatform sal weer vir inskrywings gebruik word.
Navrae tydens kantoorure kan gerig word aan 087 012 5044 of per e-pos aan [email protected].
36ONE MTB Challenge
Drylan Event Management het die week gesê die vloede het groot dele van die roete tussen Oudtshoorn, De Rust, Calitzdorp, Louvain en die Swartberg onveilig en onbegaanbaar gelaat.
Alternatiewe roetes is ondersoek, maar sou die unieke aard en integriteit van die 36One Challenge wesenlik benadeel het.
Deelnemers se veiligheid bly die hoogste prioriteit, aangesien beskadigde paaie, versadigde terrein en gevaarlike rivierkruisings onaanvaarbare risiko's inhou.
Die besluit is vroeg geneem om fietsryers voldoende tyd te gee om reis- en logistieke reëlings aan te pas.
Ingeskrewe deelnemers sal die volgende opsies ontvang:
- 'n Gratis oordrag na die 2027-geleentheid
of
- 'n Terugbetaling van hul 2026-inskrywingsfooi.
Verdere administratiewe besonderhede sal direk aan deelnemers gekommunikeer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’