OUDTSHOORN NUUS - Hoewel daar vordering gemaak word met die opruiming van die rotsstorting op die R328 (Grottepad), bly die pad steeds gedeeltelik gesluit ná die ernstige vloede van 6 Mei. Die pad is tans vanaf die 21 km-merk by De Kombuysplaas gesluit. Die Kangogrotte en Wilgewandel bly ook voorlopig gesluit vir besoekers.
Volgens Melt Botes, woordvoerder van minister Tertius Simmers, minister van infrastruktuur, word daar wel vordering gemaak met die verwydering van puin ná ’n beduidende rotsstorting op die roete tussen Oudtshoorn en die Kangogrotte.
Veiligheid bly die hoogste prioriteit. Hoewel die puin sigbaar op die pad lê, het ingenieurs bepaal dat onmiddellike verwydering sekondêre rotsstortings kan veroorsaak, wat werkers en padgebruikers in ernstige gevaar kan stel.
Spesialis-toutoegangspanne sal eers die berghelling stabiliseer deur onstabiele rotsgedeeltes te verwyder en die rotswand te beveilig. Sodra hierdie proses afgehandel is, sal spanne begin om die bestaande puin van die pad te verwyder.
'n Lugfoto van die rottstorting. Foto: Christo Spies
Weens verskeie veranderlikes wat met die stabiliteit van die rotswand verband hou, kan geen definitiewe tydlyn vir die heropening van die pad tans gegee word nie. Verdere opdaterings sal uitgereik word sodra ’n meer akkurate tydsraamwerk beskikbaar is.
Motoriste wat na Matjiesrivier wil reis, word aangeraai om die alternatiewe roete via die MR363 te gebruik deur langs die R62 na Calitzdorp te ry en daarna af te draai na Buffelskloof en Matjiesrivier. Hierdie is ’n grondpad en padgebruikers word versoek om stadig en versigtig te ry.
Die owerhede bedank inwoners, besighede en besoekers vir hul geduld en samewerking terwyl hierdie noodsaaklike herstelwerk voortgaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’