OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer dring daarop aan dat die regering die Klein-Karoo as rampgebied verklaar terwyl die onlangse vloede landbou, toerisme en handel heeltemal lamgelê het.
In 'n verklaring wat hierdie week deur die besigheidskamer se voorsitter, Abri Ferreira, vrygestel is, sê Ferreira die besigheidskamer verwelkom die nasionale rampbestuursentrum se klassifikasie van die vloede wat die area getref het as provinsiale ramp, maar dat die area as 'n rampgebied verklaar moet word.
"Aangesien kritieke logistieke are soos Meiringspoort en die Swartbergpas egter gesluit bly, en laagwaterbrûe herhaaldelik oorstroom word, rig die Besigheidskamer 'n dringende beroep op die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA), Velenkosini Hlabisa, om die amptelike verklaring van 'n rampgebied in die Staatskoerant dringend te finaliseer sodat noodfondse vrygestel kan word," sê Ferreira.
In die verklaring sê hy die ekonomiese skade veel wyer strek as bloot toerisme en landbou aangesien die hele plaaslike sakesektor onder ernstige druk verkeer. Sporttoerisme wat 'n reuserol in die streek se ekonomie speel, word ook ernstig benadeel en talle groot byeenkomste moes reeds gekanselleer word.
Skade aan infrastruktuur is enorm en Ferreira sê sonder onmiddellike noodbefondsing vanaf die nasionale regering om landbounetwerke te herbou, is langtermyn-indiensneming en voedselsekerheid in die streek in ernstige gevaar.
"Die Wes-Kaap funksioneer reeds op 'n noodgrondslag, maar provinsiale begrotingsverskuiwings kan net so ver gaan. Ons het die nasionale verklaring nóú nodig sodat ingrypende herstelwerk kan begin. Ons sakegemeenskap kan nie bekostig om te wag terwyl papierwerk in Pretoria lê nie," sê Ferreira.
Die twee hoofroetes wat gesluit is en tans die ekonomie van die streek kelder is Meiringspoort, die hoofroete tussen die binneland en die Klein-Karoo en die R328 tussen Oudtshoorn, die Kango-grotte en die Swartberge. Die dorpe en hul omliggende gebiede wat die ergste deur die sluiting van die twee roetes benadeel word is, Oudtshoorn, De Rust en Prins Albert.
Vorige berigte:
- Meiringspoort verlam ook Prins Albert
- Rotsstorting sny inkomstestroom uit toerisme af
- Grottepad steeds gedeeltelik gesluit na rotsstorting
- Jong man verdrink in Meiringspoort
- Insamelingsveldtog vir Cango Wildlife
- Meiringspoort-vloed: Klein-Karoo se slagaar afgesny
- Meiringspoort Challenge afgestel
- Garden Route braces for intense cold fronts with heavy rain, strond winds and snow
- Garden Route/Karoo storms: Road closures and storm updates
- Guests remain stranded at Cango Mountain Resort and flooding crisis
- Volstruise vrek weens vloede
- Begrafnisse tydelik uitgestel weens reen en versadigde grond
- Oudtshoorn berei voor op swaar reen
- 50 Mense sit vas in Meiringspoort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’