PRINS ALBERT NUUS - Volgens Linda Jaquet, burgemeester van Prins Albert, het die sluiting van Meiringspoort 'n enorme negatiewe impak ook op dié dorp.
Prins Albert is 'n gewilde toerisme-bestemming en Jaquet sê gastehuise staar grootskaalse kansellasies in die gesig met voornemende gaste wat verblyf vir Mei, Junie en selfs Julie kanselleer.
Dit het 'n direkte invloed op restaurante en toerisme-aantreklikhede in die dorp.
Sy sê kleiner besighede kry swaar weens vervoerkoste, veral in die lig van steeds stygende brandstofpryse en as gevolg van die lang ompad na Oudtshoorn en George.
Behalwe vir die verlies aan inkomste vir die dorp is dit ook 'n groot uitdaging vir nooddienste en inwoners wat mediese sorg in Oudtshoorn en George benodig.
Hoërskoolleerders van Klaarstroom wat die hoërskool in De Rust bywoon, kan ook nie by die skool uitkom nie. "Gelukkig is daar nou alternatiewe reëlings vir die leerders se onderrig getref," sê Jaquet.
Die impak strek ook wyer as die onmiddellike toekoms. Die organiseerders van die gewilde jaarlikse Prins Albert-leesfees, moet ook hul hele begroting vir die fees herbeplan.
In die verlede het gastehuise in die dorp ruimhartig die akkommodasie van besoekende skrywers geborg, maar met die verlies aan inkomste wat tans ervaar word, sal hulle dit waarskynlik nie kan doen nie en moet die leesfees vanjaar vir addisionele uitgawes begroot om akkommodasie van skrywers te bekostig.
Jaquet sê die heropening van die Swartbergpas sal groot verligting bring, maar daardie verligting sal eers realiseer as die pad tussen die Kango-grotte en Oudtshoorn weer oop is.
Dié pad is tans gesluit as gevolg van 'n groot rotsstorting wat nie binne 'n paar dae opgeruim kan word nie.
Vorige berigte:
- Rotsstorting sny inkomstestroom uit toerisme af
- Grottepad steeds gedeeltelik gesluit na rotsstorting
- Jong man verdrink in Meiringspoort
- Insamelingsveldtog vir Cango Wildlife
- Meiringspoort-vloed: Klein-Karoo se slagaar afgesny
- Meiringspoort Challenge afgestel
- Garden Route braces for intense cold fronts with heavy rain, strond winds and snow
- Garden Route/Karoo storms: Road closures and storm updates
- Guests remain stranded at Cango Mountain Resort and flooding crisis
- Volstruise vrek weens vloede
- Begrafnisse tydelik uitgestel weens reen en versadigde grond
- Oudtshoorn berei voor op swaar reen
- 50 Mense sit vas in Meiringspoort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’