OUDTSHOORN NUUS - Die rotsstorting wat 9 Mei op die grottepad na die ernstige vloede plaasgevind het, het alle inkomste, nie net na die Kango-grotte nie, maar na verskeie toerismebestemmings aan die ander kant van die versperring in duie laat stort.
Die aankondiging hierdie week van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur dat daar tans geen tydsraamwerk vir die heropening van die pad is nie, is slegte nuus vir besighede wat sonder inkomste sit.
Volgens Melt Botes, mediabeampte van minister Tertuis Simmers, is dit nie bloot 'n kwessie van die verwydering van die rotse op die padoppervlak nie. In die verklaring sê hy:
"While debris is visible on the roadway, engineers have determined that removing it could immediately trigger secondary rock falls, placing workers and road users at serious risk. Specialist rope access teams will first stabilise the mountainside by dislodging unstable sections of rock and securing the rock face. Once this process has been completed, teams will begin removing the existing debris from the road."
Wilgewandel-gasteplaas
Volgens Pienaar Muller, eienaar van Wilgewandel-gasteplaas, is dit kommerwekkend om te hoor dat die pad nog onbepaald gesluit gaan wees.
"Wilgewandel, die grotte, De Kombuys, De Hoek, Kobus se gat, Patat Restaurant en nog talle ander ondernemings en gastehuise aan hierdie kant van die rotsstorting staar enorme verliese in die gesig met elke dag wat die pad gesluit is."
Op hierdie stadium is die enigste toegangsroete na Oudtshoorn 'n ompad van bykans een en 'n half uur met 'n grondpad langs tot by die R62 tussen Oudtshoorn en Calitzdorp. Om sake te vererger sit die hele streek vir reeds twee weke sonder elektrisiteit nadat kragpale beskadig is.
Talle boere in die Matjiesrivier-omgewing staan voor dieselfde uitdaging en moet daagliks planne beraam om voorrade van Oudtshoorn te bekom.
'n Afdak by Swartberg Country Manor wat weens windskade in die slag gebly het. Foto: Verskaf
Swartberg Country Manor
Volgens Swartberg Country Manor se bestuurder, Leoni Fourie, is die skade wat ondernemings in die streek ervaar, astronomies.
"Die dag voor Moedersdag moes ek 48 besprekings kanselleer. Ons was van 7 tot 8 Mei vir 36 uur sonder krag, waarna die elektrisiteit net vir ongeveer 12 uur herstel is. Kort ná die rotsstorting is die krag weer af en twee weke later sit ons steeds sonder krag."
Sy sê die uitdagings strek veel verder as net elektrisiteit. Selfoonsein is onbetroubaar en die gemeenskap was tot Donderdag 14 Mei feitlik afgesny nadat toegangspaaie beskadig is. Eers nadat die Kruisrivierpad herstel is, kon inwoners weer die dorp bereik.
"Omdat ons nie krag het nie, kan ons ook nie water pomp nie. Ons moet dus kragopwekkers aan die gang hou net om die vrieskaste aan die werk te hou, anders ly ons nóg groter verliese. Dit raak 'n bose kringloop."
Volgens Fourie moes talle besprekings gekanselleer word, van verjaarsdagvieringe tot groepbesprekings van gaste wat onder meer die Kango-grotte wou besoek.
"Ons personeel ly ook swaar daaronder. Die reeds beperkte winterskofte het oornag tot stilstand gekom. Boonop betaal inwoners nou sowat R200 per persoon vir 'n taxi-ompad dorp toe, 'n 200%-verhoging op normale tariewe."
Sy wys verder op die ernstige impak op onderwys in die omgewing. "Ons plaaslike skool is steeds gesluit omdat al die onderwysers daagliks uit die dorp moet reis, en dit net voor eksamen. Buiten die impak op besighede, is die impak op ongeveer 100 leerders selfs groter.
Ons faal ons kinders. Die Kangonessie Voorskool, met sowat 37 kinders, is in presies dieselfde situasie."
Verskeie ander toerisme-ondernemings in die omgewing ervaar soortgelyke uitdagings, onder meer Swartberg Game Reserve, Giraffe Walk en Wildehondekloof.
Daar was verlede week sprake dat 'n tweespoorpaadjie, onderkant die rotsstorting oor privaat grond, moontlik oopgemaak kan word, maar dit blyk dat dit te gevaarlik is aangesien rotse enige oomblik weer kan afstort. Die paadjie is slegs vir gebruik deur noodvoertuie.
Vorige berigte:
- Grottepad steeds gedeeltelik gesluit na rotsstorting
- Jong man verdrink in Meiringspoort
- Insamelingsveldtog vir Cango Wildlife
- Meiringspoort-vloed: Klein-Karoo se slagaar afgesny
- Meiringspoort Challenge afgestel
- Garden Route braces for intense cold fronts with heavy rain, strond winds and snow
- Garden Route/Karoo storms: Road closures and storm updates
- Guests remain stranded at Cango Mountain Resort and flooding crisis
- Volstruise vrek weens vloede
- Begrafnisse tydelik uitgestel weens reen en versadigde grond
- Oudtshoorn berei voor op swaar reen
- 50 Mense sit vas in Meiringspoort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’