OUDTSHOORN NUUS - Ongeveer 200 slagvolstruise het tussen 6 en 7 Mei weens die erge vloede in die Klein-Karoo gevrek.
Volgens Joey Potgieter, ’n bekende boer tussen Calitzdorp en Oudtshoorn langs die Olifantsrivier, het boere in die gebied betyds voorsorg getref deur vee en volstruise na hoër geleë gebiede te verskuif nadat weerwaarskuwings uitgereik is.
“Hierdie was eintlik ’n frats. Ons het nie noodwendig stortreën gehad nie, maar aanhoudende deurdringende reën, en die watervlakke het vinnig gestyg weens die invloei van damwater in die riviere,” het Potgieter gesê.
Volgens hom het hy reeds sowat 100 volstruise verloor, terwyl sy buurman ook meer as 100 volstruise verloor het.
Benewens die vrektes het boere in die gebied ook skade aan infrastruktuur soos damme en keerwalle opgedoen.
Hoewel die skade in die honderde duisende rande kan beloop, sê Potgieter die landbougemeenskap is steeds dankbaar vir die reën wat geval het.
“2025 was een van die droogste jare nóg, en boere in die omgewing het swaar tye in die gesig gestaar indien daar nie binnekort reën geval het nie,” het hy gesê.
“Hierdie reën het egter al ons verwagtinge oortref. Hoewel die verlies van die volstruise groot is, sien ons steeds die positiewe raak en is ons dankbaar.”
Potgieter het verder gesê die vloedlyn het vanjaar hoër gestyg as tydens die groot vloed van 1996.
Laubscher Coetzee van Agri Wes-Kaap en Agri SA het gesê hoewel hy self nie ernstige skade op sy plaas opgedoen het nie, het hy kennis geneem van verskeie ander boere in die streek wat skade gely het.
“Die winter het vanjaar vroeër begin met goeie reën en koue weer, en dit beteken boere kan moontlik uitsien na twee tot drie goeie jare, veral met damvlakke wat tans so gunstig lyk,” het Coetzee gesê.
Kos en komberse bring hoop in krisistyd; drinkwater dringend benodig
Vorige berigte
- Garden Route braces for intense cold fronts with heavy rain, strond winds and snow
- Garden Route/Karoo storms: Road closures and storm updates
- Guests remain stranded at Cango Mountain Resort and flooding crisis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’