Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Toerisme in die Klein-Karoo het dié week 'n ernstige terugslag beleef nadat 'n verwoestende storm groot skade regoor die Tuinroete veroorsaak het, met die bekende Cango Wildlife wat onder die ondernemings tel wat die swaarste getref is.
Volgens rolspelers is die vloed vergelykbaar met die oorstromings van 1996.
Roselle Crafford, voorsitter van Oudtshoorn- en De Rust-toerisme, sê verskeie gastehuise en toerisme-ondernemings het groot verliese gely weens padsluitings, kansellasies en besoekers wat vir dae lank in die omgewing vasgekeer was. Krag- en wateronderbrekings in sekere gebiede bly ook 'n uitdaging.
"Die gedeeltelike sluiting van die R328-roete na die Kango-grotte ná rotsstortings het 'n direkte impak op besoekersgetalle en besighede langs dié gewilde toerismeroete. Die skade aan Meiringspoort beïnvloed ook toegang en toerismeverkeer na omliggende dorpe, veral De Rust en Prins Albert.
Die Meiringspoort Challenge, wat die komende naweek sou plaasvind, sowel as die 36One Challenge van 22 Mei is weens die vloedskade afgestel, wat verdere inkomsteverliese vir die streek beteken."
Hoewel die skade ernstig is, het die bestuur owerhede bedank vir hul voortgesette pogings om infrastruktuur so gou as moontlik te herstel.
Cango Wildlife
Cango Wildlife is een van die ondernemings wat ernstige skade opgedoen het en tans vir besoekers gesluit bly totdat herstelwerk voltooi is.
Volgens Anneke Lategan, bemarkingsbestuurder van die fasiliteit, was dit een van die grootste oorstromings in hul 40-jaar geskiedenis en volg dit kort nadat omvangryke herstel- en opgraderingswerk voltooi is ná die vloedskade van 2024.
Reën het op 7 Mei begin val uiteindelik die fasiliteit se twee meter hoë grensmuur oorstroom, wat meer as die helfte van die eiendom onder water gelaat het.
Kwesbare diere is betyds na hoër grond en veilige areas verskuif, terwyl personeellede deur die nag op die perseel gebly het en elke 20 minute veiligheidsrondtes gedoen het om toestande te monitor.
Tydens 'n inspeksie omstreeks 01:00 is ontdek dat die muur rondom Lemur-eiland heeltemal weggespoel is, saam met 'n 10 000 liter JoJo-watertenk. Die lemurs was egter reeds vroeër ontruim.
Een van die flaminke is in die rivier gevind. Foto: Cango Wildlife
Daar was ook kommer oor die flaminke toe vloedwaters oornag verder gestyg het. Een voël is later in oorstroomde rivierland gewaar, maar het volgens personeel self na reddingswerkers beweeg en is veilig teruggebring.
Ten spyte van die wydverspreide infra-struktuurskade het die fasiliteit bevestig dat alle diere en personeellede ongedeerd is.
Lategan het ook die plaaslike gemeenskap bedank vir hul ondersteuning, veral inwoners wat rivieropdaterings gedeel en gehelp het met voorkomende maatreëls soos toestande versleg het.
Fondsinsameling
Lategan het verduidelik dat die fasiliteit ná die verwoestende vloed van 2024 sy vloedversekeringsdekking verloor het. Ten spyte van twee jaar se infrastruktuurverbeterings en vloedmaatreëls was die omvang van die jongste skade steeds groot.
"Hierdie fasiliteit is meer as net geboue. Dit verteenwoordig 40 jaar se bewaring, sowat 160 werksgeleenthede en duisende opvoedkundige besoeke elke jaar," het sy gesê.
Cango Wildlife het 'n dringende fondsinsameling van R2,5 miljoen begin om noodsaaklike herstelwerk te finansier. Die fondse sal aangewend word vir kritieke strukturele herstelwerk aan vloedbeskadigde infrastruktuur, dierevoer en veeartsenykundige sorg, asook die voortgesette versorging van meer as 300 diere op die perseel terwyl die fasiliteit gesluit bly.
Hoewel Cango Wildlife nog nie amptelik heropen het nie, bly die restaurant oop vir besoekers, en inwoners word genooi om die "Ramp-toer" teen 'n verminderde tarief te ervaar om die herstelpogings te ondersteun.
Enigiemand wat wil skenk kan deur DonorBox 'n bydrae maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’