Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Meiringspoort, die hooftoegangsroete vanuit die noorde na die Klein-Karoo gaan onbepaald gesluit wees.
Die skrikwekkende vloed, wat verlede week deur die poort gebruis het, het nie soos met vorige vloede hier en daar ernstige skade aangerig en die pad versper nie, dit het grootskaalse verwoesting gesaai.
Melt Botes, mediaskakelbeampte van Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, het gesê: "Op hierdie stadium kan die vloedvlakke en skade vergelyk word met die 1996-vloed. Volledige skadebepalings kan nog nie gedoen word nie so dit mag daardie skade oorskrei. Op hierdie stadium vergelyk ons die skade met 1996-vlakke."
Inwoners van die Klein-Karoo en Karoo sal onthou dat die vloed van 1996 die grootste vloed was sedert die pad deur die poort in die sewentiger jare herbou en geteer is.
Die vloed van 1996 het die infrastruktuur heeltemal verwoes en groot dele van die pad moes herbou word. Die totale koste van die herbou van die pad en fasiliteite het drie jaar geduur en meer as R80 miljoen gekos.
Die nuwe pad is in 2000 amptelik geopen nadat 'n tweede, maar kleiner vloed die poort weer in 2000, kort na die herstelwerk getref het.
Met die opening van die pad het een van die amptenare skynbaar tydens die geleentheid gesê die pad is so goed herbou dat dit voortaan groot vloede sal kan weerstaan. Die natuur het hom egter verlede week verkeerd bewys.
Botes sê dat dit op hierdie stadium nog te vroeg is om 'n skadebepaling te doen en ook 'n aanduiding te gee hoe lank die poort vir verkeer gesluit al wees.
"Op hierdie stadium is die spanne ten volle in die veld besig met noodreaksie. Die spanne is tans besig om alternatiewe roetes vir gemeenskappe wat afgesluit is te probeer bewerkstellig. Dit geniet nou voorkeur. Die poort moet dus tot verdere kennisgewing as gesluit beskou word."
Die enigste aanduiding van 'n tydsraam-werk wat hy op hierdie stadium kan gee is dat dit 'n geruime tyd sal neem voordat die poort enigsins weer vir enige verkeer oop sal wees. "Volledige ondersoeke moet nog gedoen word om die volle omvang van die skade te bepaal, toegang is beperk en noodresponse elders op die padnetwerk geniet nou hoër prioriteit."
Op 'n vraag of daar al bepaal kon word of die geboue by die onderskeie rusplekke beskadig is, het Botes gesê: "Dit is verder belangrik om te onthou dat selfs al is geboue nie beskadig nie, die dienste soos water en elektrisiteit tot daardie geboue moontlik beskadig kan wees en dit dus onbruikbaar is totdat die dienste herstel is."
Hy sê dat toegang, ongeag hoe basies, 'n prioriteit bly en dat daar verskeie stappe is wat gevolg moet word. Volgens hom verloop die herstelproses in drie stadia waarvan die eerste is om basiese toegang moontlik te maak wat motorklasbeperkings en stop-en-ry punte insluit. Tweedens volg tydelike herstelwerk wat soms soos permanente herstelwerk voorkom, maar nie langtermyn is nie.
Die finale stadium is die permanente herstelwerk wat 'n langtermynproses is wat ook alternatiewe ingenieursoplossings mag insluit.
Die slotsom is dat die poort nie, soos met vorige vloede in 'n japtrap opgeruim en oopgestel sal word nie en dat dit vir 'n onbepaalde tyd gesluit sal wees.
Inwoners en besigheidseienaars in De Rust wat hierdie week met Oudtshoorn Courant gesels het, het hul kommer gedeel oor die finansiële implikasies wat dit vir die dorp kan inhou. Die sluiting van die poort na die 1996 vloed het 'n reuse-impak op die dorp gehad omdat verkeer vanuit die binneland na die kus dramaties afgeneem het.
Lees meer oor die vloede hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’