OUDTSHOORN - Die verhoor van Stephanus Olivier, die man wat in 2018 op verskeie aanklagte wat met seksuele misdrywe verband hou in hegtenis geneem is, se einde is in sig.
Olivier word daarvan aangekla dat hy twee vroue verkrag het toe hulle nog minderjarig was.
Die verkragtings sou na bewering by sy huis, in die PPK, waar hy 'n pastoor was, en by die munisipale kantoor waar hy gewerk het, plaasgevind het. Hy staan ook tereg op verskeie aanklagte wat met pornografie verband hou.
Die verdediging het verlede Dinsdag, na die getuienis van drie van Olivier se getuies, afgesluit. Die eerste getuie Dinsdag was Hendrik de Beer wat destyds saam met Olivier by die distrubisie-afdeling van die munisipaliteit gewerk het. De Beer is steeds in diens van die munisipaliteit.
Volgens sy getuienis het hulle ongeveer 20 jaar saam gewerk. Sy getuienis het hoofsaaklik oor die uitleg van Olivier se kantoor en die slotte aan die deur gehandel. Hy het egter geen kennis gedra van die aanklagte en bewerings teen Olivier nie.
Frederick Jacobs, wat een van die klaers geken het, was die volgende getuie. Hy is in 2019 tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis na hy in 2018 by Badenhorst Slaghuis gesteel het.
Jacobs het ook vir Olivier geken en hy was ook in hulle kerk. Olivier het, terwyl Jacobs in die tronk was, vir hom gaan kuier.
Hulle het aanvanklik in Vanderbijlpark gewoon voor hulle na Oudtshoorn verhuis het. Volgens hom het die klaer wel aan hom herken dat sy voorheen verkrag is, maar sy het vir hom gesê dat dit haar gewese kêrel was en 'n man wat haar eendag op pad terug van die skool af agter 'n bos ingesleep het.
Volgens Jacobs het sy nooit gesê dat Olivier haar verkrag het nie. Volgens hom het die klaer ook nooit negatief oor Olivier gepraat nie.
Tydens die kruisondervraging het adv. Michelle Weyers, staatsaanklaer, aan Jacobs gevra of hy van die klagtes teen Olivier geweet het. Volgens hom het hy eers daarvan uitgevind na Olivier in hegtenis geneem is en hulle mekaar in die tronk gesien het.
Weyers het hom ook gevra waarom die hof hom moet glo, aangesien hy reeds aan 'n oneerlikheidsmisdaad skuldig bevind is.
"Ek was net eerlik in my verhoor. Ek het skuldig gepleit en die hof als vertel wat gebeur het. Ek het nooit gejok nie," het hy gesê. Steven Olivier, Olivier se seun, was die laaste getuie.
Hy het getuig oor WhatsApp-boodskappe van sy gewese vrou en 'n minderjarige familielid wat tydens die verhoor met die hof gedeel is. Volgens een van die boodskappe sou die vrou glo een van die klaers betaal om die klag teen Olivier te lê. Sy het Steven ook na bewering telkemale gedreig dat sy die "skandes van sy pa sal onthul" wanneer hulle in argumente van mekaar sou verskil. Hy het ook getuig dat hy eendag op 'n gesprek tussen een van die klaers, haar kêrel en sy pa in sy kantoor by die munisipaliteit ingeloop het. Volgens hom sou die klaer glo beweer dat sy eksvrou haar geld aangebied het om 'n klag te lê, maar het sy nooit die geld aan die klaer betaal nie. Steven het verder getuig dat sy toe R500 by Olivier gevra het en dat sy 'n kontrak geteken het wat hy opgestel het om te sê dat die bewerings onwaar is.
Weyers het dit egter aan hom gestel dat sy weergawe van sy pa s'n verskil, waarop hy geantwoord het dat hy net kan getuig soos hy die gebeure onthou.
Christo van der Bergh, Olivier se regsverteenwoordiger, het gesê dat dit die laaste van sy getuienis is en het om uitstel gevra sodat hulle hul betoë kan voorberei.
Die saak is tot 10 Februarie 2022 uitgestel.
Vorige artikels:
- Vier getuig in pastoorsaak
- Pastoorsaak vir verdere verhoor uitgestel
- Pastoor in Julie verder verhoor
- Pastoor se verhoor weens siekte uitgestel
- Staat sluit saak in pastoor-verhoor
- Pastoor se saak gaan voort
- Pastoor se saak na 2021 uitgestel
- Pastoor in selfisolasie
- Deskundige getuig in pastoor-saak
- Pastoor-verhoor: Klaer se ouers getuig
- Pastoor-verhoor gaan voort
- Eerste klaer getuig in pastoor-verhoor
- Opvolg: Pastoor pleit inverkragtingsaak
- Pastoor pleit in verkragtingsaak
- Pastoor se verhoor na môre uitgestel
- Klagtes nog nie gevoeg
- Pastoor se saak uitgestel
- Nog moontlike klagtes kom in pastoor-saak
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor en gemeente huil saam
- Pastoor op borgtog vrygelaat
- Pastoor vas vir beweerde verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'