Update
OUDTSHOORN NUUS - Die hofverrigtinge in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn het Vrydag met 'n staande applous geëindig na Magdaleen Titus en Justice Mooi beide aan die moord op Preston Titus sowel as regsverydeling skuldig bevind is.
Natasha Stuurman, Masithembe January, Mooi en Titus het tereggestaan op aanklag van moord en regsverydeling.
Die staat het beweer dat Titus die meesterbrein agter die huurmoord op haar man was. Hulle was 19 jaar getroud en het twee dogters. Mooi was, volgens die staat, die beweerde huurmoordenaar, MJ het glo Titus aan Mooi as die huurmoordenaar voorgestel en Stuurman het Mooi en MJ gehuisves in die tyd wat die moord gepleeg is.
Uitspraak
Boqwana se uitspraak het reeds Donderdag begin. Sy het met 'n uitgebreide opsomming van die 22 staatsgetuies begin en weer klem gelê op die grusame wyse waarop Preston vermoor is.
Sy kakebeen is gebreek nadat hy vermoedelik met 'n hamer geslaan is. Hy het verskeie sny- en steekwonde aan sy lyf gehad wat met 'n mes toegedien is, en is ook verskeie kere met die hamer geslaan. Hy is uiteindelik aan bloedverlies dood.
Magdaleen Titus stap uit die selle na haar skuldigbevinding.Sy het ook tydens haar uitspraak haar redes gegee oor waarom sy Mooi se verklaring na die verhoor-binne-verhoor aanvaar het.
Mooi se regsverteenwoordiger het beswaar aangeteken oor die gebruik van die verklaring in die hof as 'n bewysstuk omdat Mooi gesê het hy het die verklaring onder dwang afgelê en omdat hy gebombardeer is met Sixabiso Klip se verklaring.
Volgens Boqwana het sy die verklaring aanvaar omdat daar geen bewys was dat Mooi deur Sixabiso Klip, die verdagte wat reeds gevonnis is, se verklaring gebombardeer is nie. Sy grondwetlike regte is ook nie benadeel nie. Sy het hom ook as 'n swak getuie beskryf en sy voel dat hy homself weerspreek het.
"Sy weergawe oor wat gebeur het kan ook nie redelik moontlik wees nie," het sy gesê.
Boqwana het verder in haar uitspraak gesê dat Titus 'n swak getuie was en dat sy haar weergawe oor moord aangepas het soos die staat vrae aan haar gevra het. Volgens die regter was Titus die meesterbrein agter die moord op haar man en sy het die feit dat Titus vir Klip as meesterbrein probeer uitmaak het, verwerp.
Natasha Stuurman en haar regsverteenwoordiger Lizanne Prinsloo na sy onskuldig bevind is.Die regter het Stuurman en MJ op beide aanklagte teen hulle onskuldig bevind. Volgens haar kon die staat nie bo redelike twyfel bewys dat hulle by die beplanning van die moord betrokke was nie.
"Beide het erken dat hulle geweet het van die moord, maar hulle was bang om iets daaroor vir iemand te sê. Om te weet van 'n moord maak jou egter nie aan 'n misdryf skuldig nie," het sy gesê.
Borgtogaansoek
Na die uitspraak gelewer is het Titus se regsverteenwoordiger, Henk Carstens, vir verlengde borgtog aansoek gedoen en het Titus self getuig oor waarom haar borgtog verleng moet word.
Van links is Justice Mooi, Magdaleen Titus, Natasha Stuurman en Masithembe January.Volgens haar is daar buitengewone omstandighede vir borgtog wat weer aan haar toegestaan kan word. Sy het aangevoer dat sy die R30 000 wat sy aanvanklik betaal het vir borgtog nodig het vir haar kinders, dat sy nie 'n vlugrisiko is nie en dat sy graag haar twee dogters op die vonnisoplegging wil voorberei.
Sy het ook gesê dat haar ma ernstig siek is en dat haar eie gesondheid ook nie goed is nie.
Adv. Christènis van der Vijver het egter gesê dat Titus nie haar kinders se belange as buitengewone omstandighede kan gebruik nie omdat sy nie hulle belange in ag geneem het toe sy hul pa laat vermoor het nie. Volgens Van der Vijver, is Titus wel 'n vlugrisiko omdat sy 'n baie lang vonnis in die gesig staar.
Hy het dit ook aan haar gestel dat korrektiewe dienste se mediese behandeling goed is en dat hulle in die tronk ook aan haar mediese behoeftes kan voorsien.
Regter Boqwana het nie die borgtogaansoek toegestaan nie. Die saak is vir vonnisoplegging tot 3 Februarie uitgestel.
Lede van die gemeenskap juig na Magdaleen Titus en Justice Mooi skuldig bevind is.
Masithembe January was in trane na hy onskuldig bevind is.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Geen borg vir Titus
- Weermagmoord: Titus en Mooi skuldig
- Staat vra dat twee uitgespreek word
- Weermagmoordverhoor: uitspraak gaan môre voort
- Weermagmoord: Regter steeds besig met uitspraak
- Weermagmoord: Titus-uitspraak begin vandag
- Weermagmoord: Uitspraak uitgestel na Donderdag
- Uitspraak in weermagmoord volgende week
- Weermagmoord: Slotbetoë begin
- Magdaleen Titus te siek vir hof
- Weermagmoord: Titus te siek vir hof
- Weermagmoordverhoor nader einde
- Stuurman en MJ het van moord geweet
- Weermagmoord: MJ getuig
- Natasha Stuurman steeds in getuiebank
- Stuurman het van beplande moord geweet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'