Update
OUDTSHOORN NUUS - Natasha Stuurman, die derde verdagte in die moord op Preston Titus, is steeds in die getuiebank.
Sy het Maandag begin getuig en is reeds deur die ander verdagtes se prokureurs kruisondervra.
Haar kruisondervraging is gister voor die hof verdaag het met die staatsadvokaat, Christénus van der Vijver, afgesluit.
Henk Carstens, Magdaleen Titus se regsverteenwoordiger, wou vanoggend met herkruisondervraging begin omdat daar gister nuwe getuienis in die hof genoem is, maar Van der Vijver, sowel as die ander regsverteenwoordigers, het beswaar aangeteken. Die regter het egter beslis dat Carstens kon voortgaan.
Volgens Carstens het Stuurman gister getuienis aan die hof voorgehou wat in die bykans drie jaar wat die saak aangaan nog nooit genoem is nie. Volgens hom is die feit dat sy geweet het van die geld wat Magdaleen Titus aan Sixabiso Klip sou gee vir sy aandeel aan die moord, een so ‘n voorbeeld.
Stuurman het tydens die herkruisondervraging aan Carstens gesê dat sy die dag van haar arrestasie aan die polisiebeampte gesê het dat sy nog ‘n verklaring wil aflê omdat daar goed is wat sy wou byvoeg. Sy kon egter nie onthou wat sy wou byvoeg nie.
Volgens Carstens het sy gister getuig dat Justice Mooi en Sixabiso Klip voor haar van die aanslag op Preston gepraat het en dat sy moes kon aflei dat Justice Mooi en die onbekende man deel is van die aanslag op Preston. Sy het aan hom gesê dat sy nie daardie afleiding gemaak het nie, maar wel geweet het Klip is betrokke.
Hy het ook aan haar genoem dat sy Klip die Donderdag voor die moord genader het en gesê het dat hy homself van die beplande moord moet onttrek en dat sy Titus ‘n ruk later daardie selfde dag gesien het, maar haar nooit daaroor gekonfronteer het nie.
Stuurman het geantwoord dat dit nie die regte tyd was om Titus oor die moord te nader nie en dat sy dit daardie Sondag sou doen.
Carstens het dit verder aan haar voorgehou dat Klip getuig het dat hy, Mooi en die onbekende man die dag van die eerste aanslag op Preston se lewe saam met Stuurman in haar sitkamer gesit het en sy het aan hulle gevra hoe die “hit” gegaan het. Sy het ook volgens Klip se getuienis gesê dat hulle “burner phones” moet gebruik. Stuurman het dit ten sterkste ontken.
Carstens het ook aan Stuurman gevra waarom Klip sou impliseer dat sy wel van die beplanning van die moord geweet het.
“Klip het in sy getuienis gesê dat hy geweet het sy weet van die beplanning van die moord na sy aan hulle gevra het hoe die ‘hit’ verloop het,” het Carstens gesê.
Stuurman het gesê dat sy niks geweet het nie en nie weet waarom Klip haar sou impliseer nie.
Carstens het sy herkruisondervraging voor middagete afgesluit.
Justice Mooi en Mastihembe January se regsverteenwoordigers het aangedui dat hulle geen verdere vrae het nie. Lizanne Prinsloo, Stuurman se regsverteenwoordiger, het aangedui dat sy eers instruksies by haar kliënt gaan neem.
Die hof sal na middagete voortgaan.
Lees vorige artikels:
- Stuurman het van beplande moord geweet
- Weermagmoord: Hof verdaag tot Dinsdag
- Weermagmoord: Titus klaar in getuiebank
- Weermagmoord: Moordverhoor verdaag
- Weermagmoord: Hof verdaag vir vandag
- Weermagmoord: Titus steeds in getuiebank
- Weermagmoord: Magdaleen Titus getuig
- Moordverhoor môre voortegesit
- Titus-verhoor gaan November voort
- Staat sluit saak in Titus-moordverhoor
- Klip se ma in getuiebank
- Weermagmoord: Verhoor gaan voort
- Weermagmoord: Klip weer in getuiebank
- Weermagmoord: Moordverdagte se verklaring aanvaar
- Weermagmoord: Verdagte getuig in Titus-verhoor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'