Update
OUDTSHOORN NUUS - Die moordverhoor van Preston Titus het pas 'n interessante wending geneem.
Natasha Stuurman, die derde verdagte in die saak, is in die getuiebank en het tydens kruisondervraging van die staatsadvokaat, Christénus van der Vijver, erken dat sy van die moord op Preston geweet het.
Volgens haar, het Sixabiso Klip, die verdagte wat reeds gevonnis is, aan haar gesê dat 'n moord op Preston beplan word en dat dit die rede is dat Justice Mooi en die onbekende man in Oudtshoorn was.
Volgens haar het sy aan Klip gesê hy dat hy homself daar moet uit hou, maar hy was glo baie bang.
Hy sou deur Preston se vrou, Magdaleen, betaal word vir sy aandeel in die moord en daardie geld sou hy gebruik om sy stiefma te laat verdwyn.
Stuurman sê sy wou nie betrokke wees nie omdat sy bang was vir hulle.
"Hulle het gewoon in my huis op daardie stadium. Ek was swanger en hulle het geweet waar ek werk. Ek sou daardie Vrydag Beaufort-Wes toe gaan vir 'n kerkdiens en daardie Sondag Maggie [Magdaleen] oor die beplande moord op haar man konfronteer. Die moord het egter die Vrydag al gebeur en ons het die Saterdag terug gekom. Ek was net te bang om iets daaroor te sê."
Stuurman het ook gesê dat Magdaleen Titus om verskoning gevra het toe hulle in hegtenis was.
"Sy het gesê sy is jammer dat sy hierby betrek is en dat sy nie wou hê ek moes weet nie omdat ek swanger is. Sy het vir my gesê Klip moet egter sy straf vir sy aandeel in die moord kry."
Gister tydens kruisondervraging van die ander verdagtes se regsverteenwoordigers, het Stuurman egter gesê dat sy niks van die moord geweet het nie.
Die verhoor gaan na middagete aan met Stuurman steeds in die getuiebank.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Hof verdaag tot Dinsdag
- Weermagmoord: Titus klaar in getuiebank
- Weermagmoord: Moordverhoor verdaag
- Weermagmoord: Hof verdaag vir vandag
- Weermagmoord: Titus steeds in getuiebank
- Weermagmoord: Magdaleen Titus getuig
- Moordverhoor môre voortegesit
- Titus-verhoor gaan November voort
- Staat sluit saak in Titus-moordverhoor
- Klip se ma in getuiebank
- Weermagmoord: Verhoor gaan voort
- Weermagmoord: Klip weer in getuiebank
- Weermagmoord: Moordverdagte se verklaring aanvaar
- Weermagmoord: Verdagte getuig in Titus-verhoor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'