Update
OUDTSHOORN NUUS - Die staat het dié week sy saak gesluit in die moordverhoor van wyle Preston Titus.
Dit volg na 'n verklaring van Justice Mooi na 'n uitgerekte verhoor binne verhoor, aanvaar is en die herondervraging van Sixabiso Klip.
Hofgangers se gemoedere het hoog geloop na Klip se herondervraging. Hy was 'n beskuldigde in die saak en is reeds 15 jaar tronkstraf opgelê na hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Sy ma, Princess Klip, was die staat se laaste getuie. Die saak sal volgende week in die rondgaande hooggeregshof voortgaan met die verdediging wat hul saak aan die hof moet stel.
Mooi se weergawe
Mooi se verklaring wat hy die dag van sy arrestasie, 12 Desember 2017, afgelê het, is deur die hof aanvaar. 'n Verhoor binne verhoor oor die verklaring is verlede Donderdag voltooi na Mooi getuig het oor die dag wat hy in Port Elizabeth in hegtenis geneem is en die omstandighede waaronder hy die verklaring afgelê hy. Hy het beweer dat hy met Sixabiso Klip se bekentenis gebombardeer is en dat hy gedwing was om die verklaring af te lê.
Volgens sy verklaring het Magdaleen (Maggie) Titus vir Mooi en 'n man, wat as Vusumsi bekend staan, betaal om haar man, Preston, te vermoor.
Die verklaring is deur kol. Eric Jullies aan die hof voorgelees.
Volgens die verklaring het Elvis Galeboe, Masithembe January se geestelike vader, vir Mooi en MJ aan mekaar voorgestel twee weke voor die moord. MJ, Elvis, Sixbiso Klip, Magdaleen Titus en Natasha Stuurman was saam in PE.
Titus het glo gesê dat sy nie gelukkig is in haar huwelik nie. Galeboe wat Titus se profeet ook was, het aan haar gesê haar man, Preston, probeer om haar dood te maak en dat hy 'n verhouding met 'n ander vrou het by wie hy ook 'n kind het. Preston sou glo toordery gebruik om Titus te vermoor.
Galeboe het, volgens Mooi se verklaring, aan Titus gesê, dat sy iets omtrent die situasie moet doen en dis hoe hulle besluit het om van Preston ontslae te raak. Titus het glo R5 000 oorbetaal sodat Mooi en Vusumsi na Oudtshoorn kon kom om die moord te pleeg.
Mooi en Vusumsi is glo die aand van die moord na Titus se huis op die weermagbasis. Sy het die kombuisdeur vir hulle oopgemaak en glo gesê sy het iets in Preston en haar jongste dogter se kos gegooi om hulle te laat slaap. Sy het twee tablette, 'n selfoon en R3 500 in 'n sakkie gesit wat Mooi en Vusumsi na die moord moes saamneem sodat dit soos 'n inbraak sou lyk. Volgens mooi het Titus vir Vusumsi na Preston se kamer geneem waarna Vusumsi Preston met 'n hamer geslaan en met 'n mes gesteek en ook met pepersproei gespuit het.
Klip het hulle toe na Mosselbaai geneem en Vusumsi het sy klere langs die pad weggegooi. Vusumsi moes R10 000 na die moord kry en R20 000 as alles afgehandel was.
Mooi het in sy verklaring gesê dat hy gehoor het daar is R20 miljoen ter sprake en dat hy toe besef het geld en 'n verhouding tussen Maggie en MJ was die motief agter die moord. Na die moord gepleeg is kon kommunikasie met Titus slegs deur Galeboe plaasvind. Mooi is op 12 Desember in hegtenis geneem nadat hy vir Galeboe by 'n McDonalds moes ontmoet om geld te ontvang.
Die vier verdagtes, is van links: Justice Mooi, Magdaleen Titus, Natasha Stuurman en Masithembe January.
Hofgangers in trane in hof
Klip is Dinsdag deur Titus se nuwe regsverteenwoordiger, Henk Carstens, herondervra. Volgens hom was daar sekere aspekte van die saak wat hy wou opklaar. Carstens het tydens sy ondervraging dit aan Klip gestel dat die polisie alles in hul vermoë gedoen het om te verhoed dat Klip sy bekentenis voor 'n prokureur aflê ten spyte van die feit dat Klip vir regsverteenwoordiging gevra het.
Hy het ook dokumente aan die hof oorhandig waar Klip se ma, Princess Klip, 'n versoek rig dat die polisie haar seun moet toelaat om 'n prokureur te sien.
Klip het reageer en gesê dat hy die bekentenis wou aflê omdat hy die waarheid wou praat.
Carstens het gesê dat sy kliënt (Magdaleen) hom die instruksie gegee het dat Klip genoeg tyd gehad het om sy aandeel in die moord op haar te pak en dat Klip eintlik die een was wat die moord op Preston Titus beplan het en nie sy kliënt nie.
"Dit is my instruksie dat Maggie nie die moord beplan het nie, maar dat jy eintlik die meesterbrein agter die moord was." Klip het dit ten sterkste ontken.
Hy het aan die einde van sy getuienis verskoning gevra aan Titus se familie, sy eie familie en aan die gemeenskap van Oudtshoorn vir die aandeel wat hy in die moord gehad het.
"I am truly disgusted by my actions and my part I played in the murder. I apologise", het hy gesê. Hofgangers was na die tyd in trane en die hof moes vir 'n wyle verdaag.
Staat se laaste getuie
Princess Klip was Woensdag die laaste getuie van die staat. Volgens staatsadvokaat Christénus van der Vijver, het sy 'n aansoek aan die hof
geskryf omdat sy en Klip se prokureur, Clyde Avontuur, toegang tot Klip geweier is en hy sy bekentenis sonder 'n prokureur moes aflê. Sy het egter tydens haar getuienis gesê dat Avontuur, haar gebel het en gevra het om haar te ontmoet. Sy het hom by die polisiestasie ontmoet waarna hulle na adv. Benito Metembo se huis gegaan het om die situasie te bespreek.
Volgens haar getuienis het Magdaleen Titus glo by Titus se woning aan haar gesê sy sal na Klip kyk en dat sy sal sorg vir sy regsverteenwoordiging. Volgens Princess het sy nooit 'n prokureur aangestel om haar seun te help nie, maar was sy tog dankbaar op daardie stadium dat daar wel 'n prokureur was.
Carstens het dit egter aan Princess gestel dat dit sy instruksie is dat Princess self die prokureur gebel en gereël het. Princess het hierop reageer deur te sê dat Titus 'n leuenaar is.
Lees vorige artikels hier:
- Klip se ma in getuiebank
- Weermagmoord: Verhoor gaan voort
- Weermagmoord: Klip weer in getuiebank
- Weermagmoord: Moordverdagte se verklaring aanvaar
- Weermagmoord: Verdagte getuig in Titus-verhoor
- Moordverhoor gaan môre voort
- Weermagmoord-verhoor: Justice Mooi getuig
- Weermagmoord: Mooi getuig in verhoor
- Weermagmoord: Verhoor gaan voort
- Titus-moordverhoor Maandag voortgesit
- Titus-moordverhoor eers Maandag voortgesit
- Weermagmoordverhoor-opvolg
- Getuie in Titus-saak by nog 'n moord
- Getuie in Titus-saak by nog 'n huurmoord
- Weermagmoord: Saak weer weens wanbetaling uitgestel
- Weermagmoordverhoor weens wanbetaling uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'