Update
OUDTSHOORN NUUS - Die weermag-moordverhoor gaan vandag voort in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn.
Henk Carstens, Magdaleen Titus se regsverteenwoordiger het gevra dat Sixabiso Klip, een van die verdagtes in die moord wat reeds gevonnis is, weer getuig omdat hy vrae aan Klip wil vra wat Titus se vorige prokureur nie gevra het nie.
Klip het in Januarie 2018 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Carstens het tydens sy ondervraging dit aan Klip gestel dat die polisie alles in hul vermoë gedoen het om te verhoed dat Klip sy bekentenis voor 'n prokureur aflê ten spyte van die feit dat Klip vir regsverteenwoordiging gevra het.
Hy het ook dokumente aan die hof oorhandig waar Klip se ma, Princess Klip, 'n versoek rig dat die polisie haar seun moet toelaat om 'n prokureur te sien. Klip het reageer en gesê dat hy die bekentenis wou aflê omdat hy die waarheid wou praat.
Carstens het gesê dat sy kliënt (Magdaleen) hom die instruksie gegee het dat Klip genoeg tyd gehad het om sy aandeel in die moord op haar te pak en dat Klip eintlik die een was wat die moord op Preston Titus beplan het en nie sy kliënt nie.
"Dit is my instruksie dat Maggie nie die moord beplan het nie, maar dat jy eintlik die meesterbrein agter die moord was."
Carstens het dit ook aan Klip gestel dat hy as pion deur die polisie gebruik is.
"Die polisie het reeds al die inligting oor die moord gehad en aan jou gesê dat hulle dit het. Dit is waarom jy die bekentenis afgelê het."
Klip het erken dat hy moontlik gebruik is om die ander verdagtes in die saak vas te trek, maar het ten sterkste ontken dat hy die meesterbrein agter die moord op Preston Titus was.
Die verhoor gaan na middagete weer voort.
Lees vorige artikels hier:
- Weermagmoord: Moordverdagte se verklaring aanvaar
- Weermagmoord: Verdagte getuig in Titus-verhoor
- Moordverhoor gaan môre voort
- Weermagmoord-verhoor: Justice Mooi getuig
- Weermagmoord: Mooi getuig in verhoor
- Weermagmoord: Verhoor gaan voort
- Titus-moordverhoor Maandag voortgesit
- Titus-moordverhoor eers Maandag voortgesit
- Weermagmoordverhoor-opvolg
- Getuie in Titus-saak by nog 'n moord
- Getuie in Titus-saak by nog 'n huurmoord
- Weermagmoord: Saak weer weens wanbetaling uitgestel
- Weermagmoordverhoor weens wanbetaling uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'