Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Preston Titus-moordverhoor sal na alle verwagting Maandag 2 September voortgesit word.
Die verhoor van die vier beskuldigdes wat teregstaan op die moord van stafsersant Preston Titus het in Maart begin, maar sloer al 'n geruime tyd omdat twee van die verdagtes, Natasha Stuurman en Magdaleen Titus, Preston se vrou, se prokureurs nie betaal is nie.
Chris Morgan, Stuurman se prokureur en adv. Mostaque Holland wat Titus verteenwoordig het, het van die saak onttrek.
Die saak is na Woensdag uitgestel sodat dié twee beskuldigdes se regshulpprokureurs op rekord geplaas kan word.
Cindy Smith van die plaaslike Regshulpraad het Woensdag aan die hof gesê dat sy vir beide beskuldigdes se nuwe regsverteenwoordigers instaan en dat Hendrik Carstens, Titus se nuwe regsverteenwoordiger is en Lizanne Prinsloo vir Stuurman gaan verteenwoordig.
"Hulle het al die hofrekords ontvang en sal Maandag in die hof wees om hul kliënte te verteenwoordig," het sy gesê.
Louise Luterer tree steeds as Masithembe January (MJ) se prokureur op.
Natasha Stuurman en Masithembe January Maandag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn. Foto's: Liezl van Niekerk
Die saak sal Maandag voortgaan met die verhoor binne verhoor wat oor 'n bekentenis wat Justice Mooi, nog 'n beskuldigde in die saak, glo gemaak het, handel. Sy prokureur, adv. Stoffel Prinsloo, betwis die bekentenis omdat die verklaring glo onder dwang afgelê is en dat Mooi hardhandig deur die polisie behandel is.Preston is die nag van 1 Desember 2017 in sy woning op die weermagbasis vermoor.
Sy bebloede liggaam is deur sy vrou, Magdaleen Titus, in sy kamer ontdek.
Titus is in Januarie 2018 vir die moord in hegtenis geneem en daar word beweer dat sy die meesterbrein agter die moord is.
Daar word ook beweer dat sy twee mans gehuur het om die moord te pleeg. Titus, Stuurman en MJ se borgtogvoorwaardes is tot Maandag verleng en Mooi bly in aanhouding.
Lees vorige artikels hier:
- Titus-moordverhoor eers Maandag voortgesit
- Weermagmoordverhoor-opvolg
- Getuie in Titus-saak by nog 'n moord
- Getuie in Titus-saak by nog 'n huurmoord
- Weermagmoord: Saak weer weens wanbetaling uitgestel
- Weermagmoordverhoor weens wanbetaling uitgestel
- Titus-Moordverhoor weer uitgestel
- Weermagmoordverhoor wéér uitgestel
- Weermagmoordverhoor uitgestel
- Weermagmoord: Verhoor binne 'n verhoor oor bekentenis
- Weermagmoordverhoor steeds aan die gang
- Weermagmoord: Selfoonrekords ontleed
- Weermagmoord: Moordverhoor uitgestel
- Weermagmoord: Week 3 van moordverhoor
- Weermagmoord: Titus sê Klip is meesterbrein
- Weermagmoord: Ter plaatse ondersoek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'